Promosa – riviere van riool en wanhoop

Die lekke is egter nie tot riool beperk nie. Samuel Goliath merk op dat skoon water al vir meer as ‘n jaar by ‘n meterboks buite Stanleylaan 9 lek.

Samuel Goliath, ‘n inwoner in Stanleylaan, verf ‘n skokkende prentjie van rioollekke wat Promosa-inwoners teister.
“Die riool lek sedert 15 Desember in die erf,” sê Samuel terwyl hy wys na riool wat by ‘n drein opstoot en oor sy erf stroom.
Samuel is lief vir tuinmaak en het sy eie groentetuin, maar kan dit nie meer gebruik nie. “Die riool veroorsaak dat ek nie by my tuintjie kan uitkom nie,” sê hy. “Die is die tweede keer wat die riool so in die erg opstoot.”
Samuel is van mening dat die riool in sy erf opstoot as gevolg van die pompkamertjie wat buite werking is. Stanleylaan is in ‘n laerliggende gebied van Promosa, wat beteken as die riool nie weggepomp word nie, borrel dit in die inwoners se erwe op en stroom deur die strate. “Daar is ‘n huis hoër op in die pad wat op die oomblik dieselfde probleem het.”
Samuel noem dat munisipale werkers vroeg in Januarie daar was om die rioollek te onderstoek. “Hulle het niks gedoen nie, net bietjie rondgestaan en gepraat en toe is hul weg. Nog niks is verder gedoen om die probleem op te los nie,” vertel hy.
In Stanleylaan self is daar ‘n stroom riool wat in die pad afloop en op plekke opdam. Daar is baie tekens dat die riool al ‘n redelike tyd daar is, onder andere groen alge wat begin vorm het en bo op die water dryf.
“Ek het by die mangate in die straat gaan kyk en nog een hier bo. Die mangate is ongeveer twee meter diep en almal staan vol riool. Vól,” sê ‘n geskokte Samuel.
Hans-Jurie Moolman, ‘n DA-raadslid het verlede jaar vir die Herald gesê dat die Poortjiedam in Promosa vol riool lê as gevolg van die pompkamertjie wat weens onvoldoende riool-ondersteunende infrastruktuur buite werking is. Samuel bevestig dit en sê dat hul in die aande met toe deure moet sit oor die stank.
Die lekke is egter nie tot riool beperk nie. Samuel merk op dat skoon water al vir meer as ‘n jaar by ‘n meterboks buite Stanleylaan 9 lek. “Ek het die mense gehelp om te kyk of dit aan hulle kant of aan die munisipaliteit se kant lek. Wanneer die water aan ons kant lek, maak ons dit self reg, maar as dit ‘n munisipale lek is, moet hulle dit regmaak.“Die probleem moet net gesort word, dan sal ons uitgesort wees,” sê Samuel.

Samuel verduidelik dat daar al vir meer as ‘n jaar skoon water uit die meterboks lek. Foto’s:
Cornelia Hitge.

Munisipale woordvoerder Jeanette Tshite sê dat die munisipaliteit bewus is van die probleem in Stanleystraat. “Die munisipaliteit het alternatiewe planne voorberei om die situasie op te los en is besig om die probleem aan te spreek.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version