Rioollekke, straatlampe, slaggate en vullis regeer in Promosa

Bradley, teleurgesteld in die verval van die omgewing, vra dat die munisipaliteit moet beter doen. “Ek is nou mooi moeg vir hulle. Hulle moet hulle sokkies optrek.”

Promosa, wat eens ‘n lushof was, is nou vervalle. Rioollekke, slaggate en vullis teister die inwoners. Snags is die strate duister wees ‘n gebrek aan werkende straatligte.
Die hoofstraat, Chris Swartzstraat, word as ‘n stortingsterrein vir vullis en afval gebruik.


Die parkie oorkant die stortingsterrein se gras is lank en die klimraam vervalle. “Sien jy die geboutjie daar? Dis ‘n badkamer,” sê Bradley Lavars, ‘n Promosa-inwoner. “Die badkamer word gebruik om ‘drugs’ in te doen, en as mense verbyloop word hulle beroof. Ons vra al baie lank dat die badkamer oorgedoen of afgebreek moet word, maar niks gebeur nie. Die busstop is dieselfde storie.”

Die Lavars se kinders staan by die oorgroiede parkie. Foto: Cornelia Hitge.

René Lavars wys na die stortingsterrein, “Dis ‘n kleuterskool vir minderbevoorregte kinders. Die skool het self ‘n heining laat opsit om die muur sodat die vuilgoed nie tot teen die muur kan kom nie. Kan jy dink dat klein kinders so moet skoolgaan?”
“En die reuk? Ruik jy dit? Mens moet jou vensters en deure toehou, anders kom dit oral in,” sê René.
Bradley voeg by dat dit ‘n ernstige gesondheidsrisiko is. “Daars naalde en snaakse goete wat hier lê,” voeg Bradley by. “Die munisipaliteit kan nie moeite doen om ‘n laaigraaf (excavator) en ‘n trok te stuur om hier te kom skoonmaak nie,” sê ‘n ontstelde Bradley terwyl die wind die vuilgoed en ‘n verstikkende reuk die strate inwaai. Daar is ‘n munisipale skipper wat gebruik kan word om vullis in te gooi, maar Lavars verduidelik dat die munisipaliteit nie die skipper kom haal wanneer dit vol is nie.

Pamela Stoffberg wil sien dat dinge beter sal
wees vir jongmense. Foto’s: Cornelia Hitge

Pamela Stoffberg, ‘n inwoner, is van mening dat die vervalle parkie en onwettige stortingsterrein nie die enigste probleme in Promosa is nie. “Sien jy hoe lyk die strate? Kyk daar op die hoek. Dis nie eers potholes nie, die pad is al amper heeltemal weg.” Pamela vertel dat die straatligte wat nie werk nie ook ‘n probleem is. “Die hele straat daar na die ouetehuis toe werk nie,” sê sy. “Dan ook is daar die ding met die riool. Die sportstadion kan glad nie gebruik word nie, want die riool is oral. Die kinders moet in die pad hardloop want hul kan nie op die sportterrein oefen nie. Kan jy jou dit indink?”
Promosa het baie respek vir hul bejaardes, en inwoner Bramzy van Wyk wil graag ‘n groentetuin begin op die grond wat tans as ‘n stortingsterrein gebruik word. “Vir die ouetehuise, hier was voorheen ‘n tuin. ‘n Mooie tuin wat ek self gedoen het,” vertel ‘n entoesiastiese Bramzy. “Nou wil ek ‘n groentetuin maak vir die oumense. My huis is net daar, ek kan self sekuriteitswag wees. Die mense wat my help kan vir hul gesinne ook kos vat.” Bradley, teleurgesteld in die verval van die omgewing, vra dat die munisipaliteit moet beter doen. “Ek is nou mooi moeg vir hulle. Hulle moet hulle sokkies optrek.”
* Die munisipaliteit het teen druktyd nie op die Herald se navrae gereageer nie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version