Local newsNewsNews

Video: Tannie Fien Tiedt (104) se positiwiteit skyn helder

“Ek vra altyd vir die Here wat ek moet doen. As ek nie iets kan kry nie dan aanvaar ek dit. Aanvaarding is baie belangrik."

Op 104-jarige ouderdom is Tannie Fien Tiedt haar sprankelende en positiewe self en ‘n voorbeeld van hoe om jou goue jare met grasie en geloof te lewe.

Hierdie afgetrede onderwyseres, wat voorheen by Laerskool M.L. Fick diep spore getrap het, woon al vir ongeveer 15 jaar by Groen Wilgers Aftreeoord in Potchefstroom. Sy is tans in die versorgingseenheid en met haar positiewe en grappige persoonlikheid is sy ‘n fees vir almal om haar.

Kyk die video hier waar Tannie Fien gesels oor wat haar in die lewe dra:

Sy kry gereeld besoeke van vriende, familie sowel as van haar oudleerders. Haar twee seuns is dr. Louwrens Tiedt, (‘n afgetrede lektor voormalig verbonde aan die Noordwes-Universiteit as hoof van Laboratorium vir Elektronmikroskopie), sowel as die bekende oor-neus-en keel spesialis in Potchefstroom, dr. Johan Tiedt. Sy het ook twee dogters, Louise Heyns en Marietjie de Necker. Sy het ook 14 kleinkinders en 18 agterkleinkinders.

Hulle ma is beslis ‘n vrou van formaat wat op haar oudag nog steeds elke dag as ‘n geskenk van bo sien.

“Positiwiteit is vir my baie belangrik. Ek is nog altyd ‘n positiewe mens. Soms werk ek op die personeel se senuwees ook,” grap sy. Tannie Fien speel graag kaart en het ‘n groot passie vir lees.

Al is haar sig verswak, lees sy steeds graag met ‘n vergrootglas en boeke in groot druk.

“Ek is baie dankbaar dat my verstand nog helder is en dat ek gesprekke kan voer en verstaan op my ouderdom.”

Tannie Fien Tiedt is ‘n regte boekwurm en lees nog graag haar stories.

Sy vertel dat sy nog altyd ‘n groot passie gehad het om vir minderbevoorregtes te gee en te dien. Jare gelede was haar Volksie (Volkswagen Kewer) ‘n bekende gesig in die dorp, waar sy na mense uitgereik het..

“Ons het saam met die kerk, kos gaan aflewer vir die armes en dit was vir my ‘n groot vreugde.”

Tannie Fien was gereeld betrokke by die NG Kerk se kinderkrans, terwyl sy onder andere ook Sondagskool gegee het en katkisante afgerig het. Volgens haar is daar nie ‘n spesifieke reël vir oudword nie, maar dat die Here se wil die belangrikste is.

Tannie Fien Tiedt met ‘n spesiale teddiebeer wat sy in haar kamer by Groen Wilgers Aftreeoord hou. Tannie Fien gesels nog baie lekker met ‘n helder verstand op haar ou dag.

“Ek vra altyd vir die Here wat ek moet doen. As ek nie iets kan kry nie dan aanvaar ek dit. Aanvaarding is baie belangrik.

“Ek kan nie kla nie, want niemand luister vir my nie,” noem Tannie Fien so tong in die kies met ‘n glimlag.

 

Related Articles

Back to top button