Local newsNewsNews

Ontmoet PAWS se waarnemende bestuurder

Johan Jooste leef sy liefde en passie vir diere uit as waarnemende bestuurder by PAWS. Hy hoop om 'n groot verskil te maak in sy tyd daar.

Johan Jooste, tans waarnemende bestuurder by PAWS, se liefde en passie vir die versorging van diere straal uit hom uit waar hy agter sy lessenaar sit en glimlag.
Johan, oudleerling van Hoër Volkskool en Hoërskool Ferdinand Postma, het in 2022 by PAWS begin werk as nag-bystandpersoneel sodat PAWS se dagpersoneel in die aand kon rus. Met tyd het hy egter agter die toonbank ook begin werk en ingestaan as bestuurder
wanneer personeel uitstedig was. Johan het ‘n graad in BA Gedragskunde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus studeer, maar gaan vanjaar verder studeer aan UNISA. Hy beoog om menslike hulpbronbestuur aan UNISA te studeer.

Intussen het Johan groot planne vir PAWS en geniet sy werk, alhoewel dit emosioneel uitputtend kan wees.
“Dis lekker om ‘n verskil te kan maak vir die diere, die personeel van PAWS en vir die publiek,” sê Johan.“Alles wat ons by PAWS doen is vir die welstand van diere. PAWS se diere, maarook die gemeenskap s’n.” Johan hoop om in sy tyd as waarnemende bestuurder ‘n verskil te maak vir die diere by PAWS.

“Ons hokke is oorvol. Daar is besighede wat die borgskap-program ondersteun, maar mense stel nie belang om die honde aan te neem nie.” PAWS het ‘n borgskap inisiatief waar besighede of privaatpersone ‘n hond kan borg vir aanneming.
“Dit beteken dat daar betaal word vir die inenting, ontwurming, sterilisasie en mikroskyfie. Die hond moet dan net aangeneem word.” Johan hoop om die publiek se aandag op hierdie inisiatief te vestig.
“Kom PAWS toe en speel met die honde. Gooi vir hulle ‘n bal, spandeer tyd saam met hulle. Jy sal verlief word.”
Daar is egter ‘n groter idee gebore uit Johan se liefde vir diere. “Ek wil ‘n groot opvoedkundige program begin by kleuterskole, laerskole, hoërskole, die dorp self, die uitbreidings buite die dorp en die informele nedersettings. Ek wil die probleem by die begin aanspreek.”

Johan glo dat om kinders van jongs af te leer hoe om met diere te werk, hoe om hulle te versorg en lief te hê sal die verskil bring wat PAWS en die organisasie se diere, asook alle diere dringend nodig het.
Johan sê verder dat om skole te besoek PAWS baie help, want buiten die opvoeding wat hul kan bied skenk die skoolkinders kos en komberse vir die diere by PAWS. “Ek wil ook meer uitreike doen om kinders en grootmense die nodige dierewelvaart opvoeding te bied.”
Johan verduidelik dat PAWS uitreike doen na die informele nedersettings en verdere uitbreidings rondom Potchefstroom.
“Ons vat katkos en hondekos saam wat ons uitdeel vir die mense met diere, en ons leer hulle meer van hoe om hul diere op ‘n veilige manier naby die huis te hou. Baie mense bind die honde vas met ‘n ketting om die nek om te keer dat die hond weghardloop. “Daardie ketting sny met tyd in die dier se vel in. Ons help mense om alternatiewe te vind vir hul honde, en indien ‘n hond beseer is, vat ons die hond PAWS toe vir behandeling.”
PAWS beoog om ‘n uitreik te doen op 15 Januarie, en Johan vra Potchefstromers se
hulp. “Gewoonlik gee ons vir die kinders ‘n pakkie lekkers en skyfies, maar ek het ‘n ander idee vir die keer. Ek het gedink dit sal goed wees om pakkies skryfbehoeftes uit te deel aangesien die skole 17 Januarie begin. “Dit is Januarie en mense sukkel met geld. Dit sal die kinders baie help.” Johan vra dat indien moontlik, Potchefstromers skryfbehoeftes by PAWS sal aflewer wat aan die kinders uitgedeel kan word.
Hy wil ook Potchefstromers se aandag vestig op PAWS se pleegsorgprogram vir honde en klein katjies. Daar is natuurlik baie honde en katte wat huise soek waar hul liefgehê kan word.
Indien jy meer inligting wil hê oor enige van die programme of die uitreik, kan jy gerus vir Johan by 071 681 9264 skakel.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button