Egpaar vertel oor nagmerrie-ervaring by Potch Hospitaal

"Ek het teen ‘n muur gelê en huil van die pyn terwyl my man een van die verpleegsters vir hulp gevra het." Stephanie van Eeden moes ook vir meer as vier ure op 'n koue teëlvloer in erge pyn sit omdat daar nie genoeg sitplekke in die ongevalleafdeling was nie.

‘n Potchefstroomse egpaar is hartgebroke nadat ‘n nagmerrie-ervaring by Potchefstroom Hospitaal in ‘n miskraam geëindig het.

Stephanie van Eeden en haar man Steven beweer dat Potch Hospitaal nalatig was tydens ‘n noodsituasie Maandagaand, 27 November en nie betyds, met die nodige sorg opgetree het om sy swanger vrou te help nie.

Verpleegsters kon glo nie Stephanie oor ‘n gebrek aan beskikbare beddens help nie. Stephanie moes ook vir meer as vier ure op ‘n koue teëlvloer in erge pyn sit omdat daar nie genoeg sitplekke in die ongevalleafdeling was nie.

Die egpaar is toe nooit verder gehelp nie en hulle is daarna huistoe. Dinsdagoggend het ‘n private dokter bevestig dat Stephanie haar baba verloor het. Steven noem dat hul op Maandagoggend, 27 November hul dokter besoek het om sy vrou se swangerskap te bevestig.

Die baba het toe ‘n goeie hartklop gehad. Dieselfde Maandagaand net voor 19:00 het Stephanie maagpyn beleef en baie gebloei.

“Ek het teen ‘n muur gelê en huil van die pyn terwyl my man een van die verpleegsters vir hulp gevra het. My manhet vermoed dat ek besig is om ‘n miskraam te kry. Die verpleegster vra toe waar die babatjie is. My man het vir haar verduidelik dat die baba in my maag is, waarop sy geantwoord het dat hulle nie ‘n bed het om my te help nie,” vertel Stephanie.

Die Van Eeden-egpaar het toe huiswaarts gekeer. In daardie tyd het het ‘n dame vir Stephanie se skoonma genoem dat hul dalk eerder direk na die kraamsaal vir hulp moet gaan.

“Met ons aankoms is daar aan ons gesê dat ek nie hulp kan kry by die kraamsaal nie omdat ek minder as 21 weke swanger is. Ek moes toe weer ongevalle toe gaan,” sê Stephanie, wat op daardie stadium 6 weke swanger was.

By die ongevalle-afdeling is Stephanie se bloeddruk gemeet en ‘n urine-toets gedoen nadat daar eers ‘n gesukkel was om ‘n lêer vir haar oop te maak.

“Die verpleegster het vir my gesê dat ek moet sit en wag vir ‘n dokter. Al die stoele was volgesit waarvan meerderheid pasiënte net dronk was, so ek moes op die koue vloer sit vir bietjie meer as 4 ure waarna ek my man gevra het om my asseblief huis toe te vat want ek kon nie meer op die vloer sit met daardie pyn nie,” vertel sy.

Die volgende dag is sy en haar man na ‘n privaat dokter om hulp te kry. Daar is toe bevestig dat sy ‘n miskraam gehad het. Terselfdertyd, het Potch Hospitaal geskakel en genoem dat hulle haar kan help. “Hulle het glo hulle beste dokters en beste masjiene uitgehaal net vir my. Ek het aan hulle genoem dat dit te laat is en dat ek klaar my babatjie verloor het,” vertel Stephanie hartseer.

Stephanie en Steven van Eeden het op Maandag, 27 November ‘n traumatiese ervaring by Potchefstroom Hospitaal beleef. Foto: Verskaf

Die DA het ook hulle misnoeë oor die voorval uitgespreek en hulle medelye aan die Van Eeden-egpaar betoon. Gavin Edwards, DA koukus hoofsweep in die provinsiale wetgewer, het ook ‘n brief aan die LUR van Gesondheid in Noordwes, Madoda Sambatha, gestuur.

“Die LUR moet die omstandighede rondom die voorval ondersoek. Waar mediese nalatigheid en wanpraktyke geïdentifiseer word, moet formele prosesse van stapel gestuur word. Die DA doen ’n beroep op die LUR om ’n ferm standpunt in te neem oor hoe dié pasiënt behandel is. Die gebrek aan emosionele ondersteuning, berading en dringendheid in ‘n noodgevalleafdeling is onaanvaarbaar. Dringende stappe moet geneem word om hierdie probleem aan te spreek,” noem Edwards.

Gavin Edwards, DA koukus hoofsweep in die provinsiale wetgewer

Stephanie noem dat sy net in haar nood, hulp gesoek het maar al wat sy gekry het, was ‘n nagmerrie.

“Dit was ‘n traumatiese ondervinding vir my. Ek het heel week in my bed gelê met pyne wat ek nie eers kan beskryf nie. Ek het iets baie na aan my hart verloor en niemand sal dit ooit kan regmaak nie.”

Exit mobile version