Local newsNewsNews

Babs Brouwer en Potchefstroom Mannekoor sluit 40 jaar Era af

Babs Brouwer wat verskeie musiekgrade het, het besluit om op 85-jarige ouderdom 'n era af te sluit wat sy 40 jaar gelede begin het toe sy die Potchefstroomse Mannekoor in 1983 gestig het.

‘n Baie unieke geleentheid het Vrydagaand, 17 November plaasgevind toe Babs Brouwer wat verskeie musiekgrade het, besluit het om op 85-jarige ouderdom ‘n era af te sluit wat sy 40 jaar gelede begin het toe sy die Potchefstroomse Mannekoor in 1983 gestig het.

Babs was die enigste koorleier en haar dogter Sanette Kruger was vir 34 jaar die koor se begeleier.

Hans van Zyl was vroeër jare die koor se seremoniemeester. Babs en Sanette het tydens Vrydag se geleentheid oorkondes ontvang vir hulle uitmuntende diens vanaf Peet van Schalkwyk, wat vroeër 21 jaar die koorvoorsitter was. Sanette is ‘n besonderse begaafde begeleier en was ‘n juweel in die koor.

Talle mense het na opvoerings met lof gepraat oor haar, Babs, die koor en instrumentaliste se aanvoelings vir mekaar. Sy kon by enige situasie aanpas en was ‘n fondasie vir die koor se sukses.

Die koor se doelstellings wat hulle getrou die hele 40 jaar uitgeoefen het was as volg:

* Om te sing vir ons eie plesier

* Om te sing vir ander mense se plesier deur opvoerings.

* Om die Evangelie uit te dra.

Babs het ‘n pragtige oorsig oor die 40 jaar by die afsluitingsgeselligheid gegee, deur middel van ‘n PowerPoint aanbieding, wat almal met vreugde laat terugdink het aan al die wedervaringe oor die jare.

Sanette Kruger en Babs Brouwer ontvang oorkondes vir hulle diens aan die Potchefstroomse Mannekoor van Peet van Schalkwyk.
Babs Brouwer (85) het tydens haar 40 jaar by die Potchefstroom Mannekoor as koorleier en stigter ‘n groot nalantenskap gelos.

Haar seun Dirk, wat ook ‘n stigterslid van hierdie unieke koor was en baie koorvideo’s oor die jare geneem het, het oor vier weke saam met Babs al die inhoud bymekaargesit vir ‘n verrykende terugskou oor al die aktiwiteite en suksesse wat foto’s en video’s van die pragtige sang van die koor ingesluit het.

Die volgende interessante statistieke getuig van ‘n onbaatsugtige toewyding wat Babs, Sanette en al die koorlede oor die jare gehad het:

  • Hulle het in 29 dorpe opgetree en 21 000+ km altesaam gery.
  • Babs het oor die jare meer as 500 liedere uitgesoek en die meeste verwerk vir die mannekoor. Sy het meer as 40 liedere self gekomponeer – woorde, wysies, en note.
  • Die koor het elke Maandag geoefen vir 10 maande elke jaar – altesaam 4 400 ure in totaal (560 werkdae!).
  • Hulle resultate en prestasies was ongelooflik, veral as jy weet dat Babs nooit een van haar koorlede “gekeur” het nie – hulle moes net by ‘n sekere stemtoon kon inskakel, hou van sing en ‘n Christelike lewe lei daarbuite.
  • Hulle het 9 CD’s vrygestel met 219 liedere op wat Marius, haar ander seun, professioneel opgeneem het.
  • Hulle het groot opvoerings gehad onder andere in die Standard Bank Arena waar 20 Mannekore met altesaam 600 mans saamgesing het, in die LC de Villiers-saal in Pretoria, Worcester, asook in die Voortrekker Monument.
  • Hulle was ook by KKNK & Aardklop Kunstefeeste waar deelnemers gekeur word.

Hulle het opgetree by 29 Kerssangdienste en ook by ander kerke met ‘n verskeidenheid toepaslike liedere.

Hulle het ook by baie Mannekoorsaamtrekke opgetree en ook saam met bekende sangers oor die jare, insluitende Manuel Escorcio, Jannie Moolman, Nicolette Minnaar en Amira Willighagen om maar ‘n paar te noem. Hulle het verskeie voorprogramme vir bekende kunstenaars soos Luigi Bianco, Mimi Coertse, Annelie van Rooyen, Rina Hugo, Innus & Franna Banade, Mathys Roets en ander aangebied.

Hulle het verskeie Feeskonserte gehou met groot bestaansjaarmylpale soos 10 jaar, 15 jaar, 21 jaar, 30 jaar, 35 jaar. Hulle het selfs ook by kunswedstryde deelgeneem en A+ en A-vlakke behaal. Babs het haar waardering uitgespreek aan almal wat betrokke was om hierdie geleentheid so ‘n baie spesiale en suksesvolle aand te maak.

Babs Brouwer en hierdie Potchefstroomse Mannekoorkoor was sinoniem oor die hele tydperk. Die “Legacy” wat sy opgebou het was uniek en een in ‘n miljoen – ongelooflike prestasie! Hierdie “Legacy” gaan die Brouwer-familie en al die manne wat oor die 40 jaar in die koor gesing het en hulle families vir altyd bewaar en koester.

Babs verwoord die belangrikheid van nalatenskap met hierdie treffende stelling:

“Legacy: Not only are you the “maker” of your own Destiny, but you are also the “sole maker” of your Legacy.”

Related Articles

Back to top button