Sentrale sakekern ly onder rommelstorting

Rommel word ook glo in hierdie area gebrand en voorheen was daar gereelde voorvalle van dwelmgebruik en ander misdade.

Die aanhoudende storting van vullis en rommel is Kingsstraat het besigheidseienaars warm onder die kraag.

Nie net is die storting van vullis ‘n onaangename gesig in hierdie area nie, maar ook ‘n moontlike broeiplek vir talle siektes wat gesondheidsrisiko’s inhou.

‘n Paar meter verder in die hart van die sentrale sakekern is daar ook oor die afgelope jaar talle uitdagings rakende rommelstorting.

Rommel word ook glo in hierdie area gebrand en voorheen was daar gereelde voorvalle van dwelmgebruik en ander misdade. Volgens die DA wyksraadslid van wyk 24, Jeanne Adriaanse, is hierdie areas vir ‘n geruime tyd problematies, maar dat die groot doelwit is om die sentrale sakekern op te hef. Daar is al vordering in hierdie verband gemaak.

“Die probleem is die inwoners en huurders wat vullis stort nadat die vullistrokke reeds daar vullis opgelaai het. Daar is maatreëls ingestel sodat hierdie area in die sakekern (Perrinstraat en gedeeltes van New Marketstraat) al verbeter het. Een van die grootste probleme bly die waterlekke en slaggate wat vererger,” noem Adriaanse.

Annemarie Botha, mede-eienaar van North West Refrigeration & Electrical by die Design Square-winkelkompleks sukkel al vir jare met dié vullisprobleem in Kingsstraat.

“Ons besighede ly daaronder omdat die straat so lyk. Daar is mense wat in hierdie stegie urineer. Mense gooi enigiets daar, papiere, bottels, pruike en dooie diere. Dit lyk septies,” vertel Botha ontsteld.

Volgens Botha is Maandagoggende gewoonlik die ergste na die naweek se verrigtinge in hierdie area. “Ons sukkel ook met riool wat in hierdie straat afloop. By my besigheid se agterdeur ruik mens riool, so ek moet die deur toehou,” noem sy.

Volgens Adriaanse maak sommige besighede nie altyd voorsiening vir vullisgeriewe binne hul besigheidspersele nie en kies dus die stegie om hul vullis te stort. Een van die probleme is dat vullistrokke ook nie konsekwent op skedule bly nie.

“Ons het aansoek gedoen uit ons wykfondse van die vorige finansiële jaar om hier met ‘n ingrypingsplan vorendag te kom wat die probleem die hoof sou bied. Ongelukkig het geen van ons projekte wat ons ingehandig het, enige befondsing ontvang nie en sit ons steeds met die probleem,” voer sy verder aan.

Adriaanse is van mening dat besigheidseienaars moet saamstaan en inkoop in die idee om die sentrale sakekern op te hef sodat besighede kan groei. “Indien ons die oorsaak van die probleem (mense wat vullis stort) kan bekamp, kan die munisipale prosesse gevolg word.”

* Die Herald het die J.B. Marks munisipaliteit om kommentaar genader, maar teen druktyd nog geen terugvoer gekry nie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version