Local newsNewsNews

Jou betrokkenheid maak ‘n groot verskil in verwaarloosde kinders se lewens

“Daar is verskillende maniere om by pleegsorg betrokke te raak. Jy hoef nie kinders voltyds in jou huis te neem nie."

“Daar is verskillende maniere om by pleegsorg betrokke te raak. Jy hoef nie kinders voltyds in jou huis te neem nie. Raak betrokke by ‘n kinderorganisasie of plaaslike kinder- en jeugsorgsentrum. As jy tyd het, maar nie geld nie, kan jy jou hulp aanbied om die take van die sentrum/ organisasie se bestuur en personeel ligter te maak. As jy geld het, maar nie tyd nie, kan jy fondse skenk om die nodige uitgawes van die sentrum te dek.”

So gesels ‘n baie pragmatiese Lizelle Enslin wat ‘n vrywilliger by die organisasie, Vessels of Mercy is.

Dié organisasie is nie-winsgewend en ‘n plek van veiligheid in Potchefstroom wat babas en kinders ‘n veilige heenkome bied. Hier word hul tydelik versorg totdat pleegouers hul inneem. Vessels of Mercy is alleen van donateurs se skenkings afhanklik om ‘n verskil in verwaarloosde of mishandelde kinders se lewe te maak en kry geen finansiële ondersteuning van die regering nie,” sê Lizelle.

“Die babas en kleuters wat hier bly, word uit die sorg van hul ouers verwyder omdat hul veiligheid in gedrang is òf omdat hul verwaarloos word. Babas wie se ma’s, om welke rede ookal, nie na hul pasgebore babas kan omsien nie, word ook hier geplaas,” verduidelik Lizelle.

Sy het vir die eerste keer by Vessels of Mercy betrokke geraak nadat sy in 2018 ‘n berig oor die doen-en-late van hulle in die Potchefstroom Herald gelees het.

Lizelle is ook ‘n FAMSA fasiliteerder wat bewusmakingsveldtogte teen gesinsgeweld by skole aanbied. Sy vertel dat sy nog altyd ‘n besondere sagte plek vir kinders het. Sy was juis van vroeg af by haar kerk se kinderbediening betrokke.

“Ek was nog altyd, maar veral vandat ek my eie kinders het, bewus van kinders se broosheid en magteloosheid teen onreg.”

Sy het ‘n hart vir kinders en glo sy moet dit uitleef, daarom het sy met die koerantberig van die Potchefstroom Herald ook die vroue in haar kerk se selgroep oorreed om by Vessels of Mercy betrokke te raak.

Susan Fouché, direkteur van Vessels of Mercy, het Lizelle later genader om as sekretaresse by die organisasie betrokke te raak omdat sy ‘n aanwins is met al die administratiewe take wat sy so noukeurig en pligsgetrou uitvoer. Lizelle glo dat mense betrokke moet raak daar waar jou hart en jou aanleg is.

“Ons het ‘n vrywilliger wat sorg dat die woonplek/sentrum netjies en georganiseerd is. Sy pak kaste reg en sorteer speelgoed. Dan het ons vrywilligers wat sorg dat daar koek, lekkernye en persentjies is wanneer kinders verjaar en dan is daar ‘n ander vrywilliger wat ‘n gereelde nuusbrief vir Vessels of Mercy saamstel. Sommige vrywilligers borg weer spesiale lesse en terapiesessies vir die kinders wat dit nodig het,” vertel Lizelle verder hoe die opset werk.

Lizelle Enslin is ‘n vrywilliger by Vessels of Mercy, ‘n nie-winsgewende organisasie wat ‘n plek van veiligheid in Potchefstroom bied vir babas en kinders wat verwaarloos of mishandel word. Foto: Verskaf.

Volgens Lizelle is daar ‘n keuringsproses wat mense moet ondergaan as hulle by die kinders en die huishouding van Vessels of Mercy betrokke wil raak. Dit behels dat hulle ‘n gesertifiseerde ID moet inhandig. Eers nadat ‘n Vorm-30 bewys lewer dat daar nie seksuele aanklagte teen ‘n vrywilliger is nie, mag hulle die terrein betree. Hulle moet ook ten alle tye ‘n identiteitskaart dra en slegs die huis besoek volgens afprake wat vooraf met die huismoeder gemaak is. Vir donateurs is daar Artikel 18 A-sertifikate beskikbaar wat skenkings aan Vessels of Mercy van hul belasting sal aftrek. Lizelle glo dat denkers ook doeners kan wees en dat elkeen met sy eie talente ‘n besondere bydrae kan lewer. “Dit kan ‘n groot verskil in verwaarloosde kinders se lewens maak.”

Susan Fouché is ook ‘n finalejaar student in maatskaplike werk en is toegewyd om kinders te help. Sy sê daar is ‘n groot behoefte aan pleegouers. Hierdie ouers kry ook ‘n maandelikse subsidie van maatskaplike dienste en kan aansoek doen vir pleegouerskap deur NG Welsyn by (018) 297 7347 te skakel.

Vrywilligers of skenkers wat by Vessels of Mercy betrokke wil raak, kan Lizelle by 082 493 8965 skakel.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button