Local newsNewsNews

Vrou gelukkig nie beseer na klip haar motorruit tref

'n Vrou is gelukkig om geen ernstige beserings op te doen, na 'n kwaadstoker 'n klip deur haar motor se ruit gegooi het.

‘n Vrou is gelukkig om geen ernstige beserings op te doen, na ‘n kwaadstoker ‘n klip deur haar motor se ruit gegooi het.

Die voorval het Sondagoggend, 15 Oktober omstreeks 9:20 in Govan Mbeki-rylaan om die draai by die brug voor die verkeerslig by Chief Albert Luthuli-rylaan plaasgevind.

Alinda Badenhorst noem dat die Here se beskerming haar gered het, aangesien die klip haar net-net gemis het terwyl sy besig was om te bestuur. Sy was op pad om haar verloofde, Jacques van Deventer op te laai waar hul ‘n familieontbyt sou geniet.

“Dit het alles so vinnig gebeur. Ek het die man langs die kant van die pad gesien, maar nie noodwendig gedink dat hy iets sou doen nie. Ek het toe ‘n harde geluid gehoor soos die klip my ruit getref het.

“Toe ek in my truspieël kyk, het ek gesien  dat hy sy hande oplig. Die getinte film wat op die ruit is, het ook gehelp om die impak te absorbeer. Die Vader het my beslis beskerm,” noem Badenhorst.

Die klip wat haar ruit getref het, was omtrent die grootte van ‘n mens se hand.

Sy vertel ook dat sy teruggedraai het om die man te jaag, maar dat hy toe reeds weggehardloop het.

Alinda Badenhorst noem dat die Here haar beskerm het.
Die area waar die vooval in Govan Mbeki-rylaan plaasgevind het.

“Daardie klip is doelbewus met geweld gegooi. Ek het ‘n saak by die polisie ook aanhangig gemaak. Dit is vir my sleg dat so iets gebeur, want dit is ‘n besige straat en dinge kon erger uitgedraai het. Niemand verdien so iets nie” sê Badenhorst.

Na die drama is Badenhorst en haar verloofde terug na die toneel om te kyk of hulle die kwaadstoker kan vind.

Hulle wou ook net uitvind of mense wat daar bly, nie meer inligting het nie.

Dit kon nog nie vasgestel word dat die klipgooier in daardie area woon nie.

Buiten die emosionele trauma van die voorval, het dit ook finansiële implikasies veroorsaak.

“Ons moes die ruit ook herstel, wat duisende rand gekos het. Dit is net iets wat mens glad nie voor beplan nie.”

Noordwes polisiewoordvoerder, lt. kol. Amanda Funani, het bevestig dat ‘n saak van opsetlike saakbeskadiging oopgemaak is.

“Geen arrestasies is nog gemaak nie. Die ondersoek duur voort,” noem Funani.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button