Rioolprobleem begin aandag kry weens druk van VF Plus

Met die Herald se besoek aan die treinbrug langs die N12 oorkant Ikageng, kon die nare reuk van riool geruik word. Daardie gedeelte is nog vol riool tesame met rommel wat in die water vloei.

Vir maande het onverwerkte riool vanaf Ikageng deur ‘n landelike gebied tot in die Mooirivier gevloei, maar na ‘n lang stryd en druk van die Vryheidsfront Plus, is hierdie krisis gedeeltelik opgelos.

Die VF Plus het in ‘n dringende skrywe op 4 Oktober geëis dat die munisipale bestuurder, mnr. Kgomotso Kumbe, ingryp om besoedeling stop te sit.

Foto’s: Wouter Pienaar

Die riool het onder deur die N12 brug sowel as die treinbrug na landelike gebiede begin vloei.

Met die Herald se besoek aan die treinbrug langs die N12 oorkant Ikageng, kon die nare reuk van riool geruik word. Daardie gedeelte is nog vol riool tesame met rommel wat in die water vloei.

“Die riool het letterlik groot damme in die omgewing gevorm wat ‘n groot gesondheidsgevaar vir die plaaslike inwoners ingehou het. Kumbe is daarop gewys dat die besoedeling skaars ondergrondse waterbronne in die gebied bedreig. Die plaaslike landbou-ekonomie word ook bedreig aangesien boere grootliks van die water afhanklik is,” noem VF Plus raadslid, Ian de Villiers.

Die VF Plus het in ‘n opvolgskrywe aan Kumbe daarop aangedring dat die gebied deur die munisipaliteit gerehabiliteer word sodra die infrastruktuur herstel is.

Video: Verskaf

“Veral met die reënseisoen op hande is dit belangrik dat rioolreste wat steeds teenwoordig is, opgeruim word om te voorkom dat verdere besoedeling plaasvind. Dit is skandelik dat die munisipaliteit toelaat dat skaars waterbronne weens nalatigheid en gebrekkige instandhouding bedreig word,” meen De Villiers.

* Die Herald het ‘n navraag aan die J.B. Marks Munisipaliteit gestuur, maar nog nie terugvoer ontvang nie.

Exit mobile version