Studente skitter by Eagi Talentfees met puik vertonings

Die 40ste Eagi Talentfees het Donderdag (7 September) in die NWU Ouditorium op kampus plaasgevind en oudergewoonte vir briljante vertonings in verskeie genres gesorg.

Die 40ste Eagi Kampus Talentfees het Donderdag (7 September) in die NWU Ouditorium op kampus plaasgevind en oudergewoonte vir briljante vertonings in verskeie genres gesorg.

Die Talentfeesorkes onder leiding van die talentvolle musiekregisseur, Pieter de Bruin, is vanaf die openingslied met ‘n hartlike applous verwelkom. Die gehoor was beslis van die stanspoor af gereed om bekoor te word.

Khayakazi Madlala se goue stem was weer eens ‘n groot treffer en sy vat die louere in die klassieke afdeling met die lied “Klange de Heimat.” Die Diva’s wen die kontemporêre afdeling. Hul bestaan uit Thando Mabuza, Sisikelelwe Mngenela en Prudence Blekiwe.

Die “Diva’s” het ‘n staande toejuiging gekry vir hul vertolking van die lied Gira Con Me.

Foto’s: Tian du Preez

Anelle Arbuckle het die dans kategorie gewen en Phillip Human het met die louere weggestap in die vertolkingskategorie met die voorlees van ‘n uitreksel uit Die Aanspraak van Lewende Wesens deur Ingrid Winterbach.

Sergio Tavares is aangewys as die wenner van die Klassiek instrumentale kategorie, Khayakazi Madlala en Rethabile Khaile was die wenners van die Klassiek duet kategorie en die groep Voi Signor, is aangewys as die wenners van die Klassie Groep-kategorie.

Die student Ashly Sibanyoni met sy blokfluit is aangewys as wenner van die Oop-kategorie vir sy weergawe van die bekende lied Special Star van Mango Groove.

Daar is elke jaar om en by 200 inskrywings vir die fees en net die beste talent dring deur tot die finale aand.

Vanjaar was daar R40 000 wat toegeken is aan al die onderskeie wenners en is die prysgeld moontlik gemaak deur die ATKV. Elke kategorie wenner het R2500 ontvang en die die wenner van die klassiek- en kontemporêre afdeling elkeen R7500.

“Die Eagi Kampustalentfees is elke jaar besonders. Dit is ‘n baie belangrike platform waar talent ontwikkel en raakgesien word,” sê Jaco van der Walt, Senior Bestuurder van NWU Kunste.

Leon Gropp van die televisieprogram Ontbytsake en Sinki Mlambo ‘n voormalige Talentfeeswenner was die twee seremoniemeesters vir die aand en die immergewilde groep Rooksein het opgetree as gaskunstenaars. Rooksein se drie groeplede is almal alumni van die NWU en vorige deelnemers aan die Talentfees en het juis ontstaan by die fees so paar jaar gelede.

Die beoordelaars tydens hierdie spoggeleentheid het bestaan uit, Jak de Priester, Anna Davel, Langa Lerato, Valeska Constance en Babette Viljoen.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version