NWU Nuushonde se sterte gaan swaai by Aardklop

“Die Afrikaanse studente-skrywers het almal hulle voorkeure waaroor hulle wil skryf deurgegee en ons gaan alle invalshoeke en mediaformate gebruik om op die mees oorspronklike en opwindende manier oor die fees verslag te doen,"

Vanjaar by Aardklop vanaf 3-8 Oktobre gaan ’n groep studente van die NWU Potchefstroomkampus, bekend as die NWU Nuushonde, spreekwoordelik spoorsny om feesgangers in te lig oor feeshoogtepunte en ander interessanthede.

Hierdie groep entoesiastiese studente, onder leiding van Me Coréne Marx, gaan skryf oor die dramaproduksies, aktuele en boekgesprekke, musiek en wat alles op die feesgronde aangebied word.

“Dit was belangrik om ’n groep studente bymekaar te kry wat, ongeag hul vaardigheid in Afrikaans, steeds entoesiasties aan die projek wou deelneem. Vir die rede het ons die geleentheid ook oopgestel vir nie-Afrikaanssprekende studente om agter die kamera’s en as videograwe hulle talente in te span.

Die NWU Nuushonde is ‘n groep studente wat Aardklopgangers op hoogte met vars nuus van die fees gaan hou.

“Die Afrikaanse studente-skrywers het almal hulle voorkeure waaroor hulle wil skryf deurgegee en ons gaan alle invalshoeke en mediaformate gebruik om op die mees oorspronklike en opwindende manier oor die fees verslag te doen,”  sê Me Coréne Marx, projekbestuurder van die NWU Nuushonde.

Die NWU Nuushonde is uit die blokke en volspoed aan die gang met stories skryf, foto’s neem en plasings maak op sosiale media.

 Reeds vroeg in 2023 het die Aardklop-bestuurspan by die Noordwes-Universiteit (NWU) aangeklop met ’n opwindende voorstel om studente die geleentheid te gee om hul joernalistieke vaardighede prakties toe te pas tot voordeel van die fees. So is die NWU Nuushonde geskep.

“Dis ’n groot voorreg vir ons studente om deel te wees van so ’n dinamiese projek. In die Skool vir Kommunikasie heg ons geweldig baie waarde aan praktykervaring omdat ons daarna streef om ’n dinamies en innoverende student op te lewer wat in staat is om aan te pas en te floreer binne die Suid-Afrikaanse en internasionale kommunikasiebedryf. Ons lê klem op innoverende, kritiese en kreatiewe denke. Geleenthede soos hierdie samewerkingsooreenkoms bied juis ’n ideale leerskool vir ons studente om nou reeds hulle plek in die bedryf vol te staan. ’n Spesiale woord van dank aan Aardklop,” sê Prof Lida Holtzhausen, Direkteur van die Skool vir Kommunikasie.

Volgens die NWU se Direkteur van Korporatiewe Kommunikasie en woordvoerder, Mnr Louis Jacobs, het die universiteit reeds sedert die ontstaan van Aardklop ’n baie noue verbintenis met die bevordering van die kunste in die groter Potchefstroom-gemeenskap. Hy sê verder dat dit van kardinale belang is om studente op die beste manier voor te berei vir die werksplek.

“Ons wil nie slegs studente aflewer met ’n kwalifikasie nie, maar ook die nodige ondervinding. Ons vertrou dat die inisiatief verder kan strek as slegs Aardklop 2023. Onthou, dit begin alles hier by die NWU,” noem Jacobs.

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version