Uit Piet se Pen: De tjaarts of de laait brigyd

Hy kom staan so ‘n entjie van my af, maak ‘n effense buiging en sê: "Môre Meneer, askies Goot moerning Sir. I bring you De tjaarts of de Laait brigyd by Lort Alferd Tenieson"

Ons sit die middag weer daar om die dag se sorge effens af te plat en ons praat skoolsake.

Ons, dis nou ek en ander Piet en Hennie, dink aan die dae toe LO nog iets met liggaamlike opvoeding te doen gehad het en die LO juffrouens almal pragtig was met hulle kort rompies en stewige kuite.

Deesdae kry die matrieks, volgens die koerante, onderskeidings in LO. Blykbaar is dit heeltemal iets anders as ons dae se LO.

So met die gesprek in die matriekeksamen se rigting, val dit my by van ‘n goeie kennis wat op sy dae Inspekteur van Engels, Tweede taal was in die verre Wes-Transvaal, daar waar Engels eintlik ‘n vreemde taal was en hoogstens in selfverdediging aangewend is.

Deel van sy take was om elke skool te besoek en die mondelinge eksamen van die matrikulante af te neem.

Hy vertel dat hy die betrokke dag ‘n skool baie diep in die platteland volgens afspraak besoek. Die juffrou het deeglike werk gedoen en dit gaan redelik: die kandidate se uitspraak lol maar hulle kry darem die gedig se woorde agtermekaar en maak ‘n redelike toespraak.

Hy vertel vir my: Piet, toe is dit die beurt van Gert. Gert se skoene het geblink soos ‘n spieël, sy hare was glad gekam met ’n perfekte kantpaadjie en die kakiebroek was deeglik gestryk.

Hy kom staan so ‘n entjie van my af, maak ‘n effense buiging en sê: Môre Meneer, askies Goot moerning Sir. I bring you De tjaarts of de Laait brigyd by Lort Alferd Tenieson

“Kanon on de raait of dem (en sy linkerhand gaan op)

Kanon on (en daar slaan hy ‘n blank)

Ek fluister vir hom :”Canons on the left)”.

Hy fluister: “Baie dankie Sir, nou het ek hom” en hy begin weer voor: voete netjies langsmekaar.

“De tjaarts of de laait brigyd

Kanon on de raait of dem (en weer gaan die linkerhand op)

Kanon on de left of dem” (en sy regterhand gaan op)

En daar slaan hy weer toe. Die sweetvlekke onder sy arms word groter.

Ek raak haastig en sny sommer ‘n paar reëls en fluister

“Into the valley of death rode the six hundred”

Gert is bitter dankbaar, fluister: Tenk you sir. I got it nou”

“De Tjaarts of de laait brigyd

Kanon on de raait of dem (met die linkerhand op)

Kanon on de left of dem (met die regterhand op)

Met altwee bruingebrande plaasseunarms beduie hy vorentoe en sê triomfantlik:

“Into de sieks hundred dead vallies dy rode”

Ek sug en sê: “Gert, ken jy nie ‘n ander engelse gedig nie?” en Gert sê ”Ja meneer, sommer baie, maar nie een so goed soos hierdie een nie!”

Ander Piet sluit af met die opmerking dat die vreemde taal menige seun se wa amper in die drif laat vassit het.

Exit mobile version