Joshua na die Reën verfilm nuwe musiekvideo in Potch

Die bekende sanger, musikant en liedjieskrywer, Joshua na die Reën (JNDR) het op Maandag, 28 Augustus, ‘n splinternuwe musiekvideo in Potchefstroom se ikoniese Snowflake-gebou kom skiet.

Die bekende sanger, musikant en liedjieskrywer, Joshua na die Reën (JNDR) het op Maandag, 28 Augustus, ‘n splinternuwe musiekvideo in Potchefstroom se ikoniese Snowflake-gebou kom skiet.

Jacques de Villiers (Joshua na die Reën) het dié musiekvideo vir sy opkomende enkelsnit “By My” hier in die hart van Potchefstroom verfilm. “By My” verskyn op sy opkomende vierde album Die Vallei wat ook op 15 September in Potchefstroom by The Roots vrygestel sal word.

Volgens De Villiers het hy en sy band besluit om die musiekvideo hier in Potchefstroom te verfilm aangesien die industriële ligging en die dekor perfek by die styl pas waarvoor hulle gaan.

“Ek het nog altyd baie goeie herinneringe van Potch van die kere wat ek ook hier opgetree het. Die ligging was perfek vir die video van “By My.” Die liedjie gaan oor die diversiteit van mense en dat almal ‘n plek het. Dit is juis hierdie diversiteit wat mense spesiaal maak,” noem De Villiers.

In hierdie musiekvideo is die plaaslike agentskap, Brandmill (Ian Nieuwenhuizen), gebruik om die video te verfilm, wat die Potch aanslag nog verder neem. Daar is ook ʼn paar plaaslike Potchefstromers sowel as kunstenaars betrokke by JNDR soos Raziela Grey, Hannah Foster en Gideon Botes onder andere, wat in verskeie tonele van hierdie musiekvideo gaan verskyn.

Gideon Botes, kitaarspeler en vervaardiger van “Die Vallei”.
Jacques de Villiers (Joshua na die Reën) stel in September sy vierde album, “Die Vallei” vry.

Die Vallei is ‘n 10 jaar viering sedert Joshua na die Reën se eerste bekroonde self-getitelde album in 2013 verskyn het. Dit volg op die 2019 album Someraarde. Die talentvolle, Gideon Botes het Die Vallei vervaardig met De Villiers wat al 18 liedjies geskryf het wat op Die Vallei gaan verskyn.

“Ons is baie opgewonde oor die album. Daar is ‘n goeie mengsel van liedjies wat luisteraars op ‘n reis oor ‘n vallei vat. Die idee is dat dit soos ‘n staproete moet voel wat oor ‘n vallei uitkyk,” vertel De Villiers, sonder om te veel weg te gee.

Na ‘n dekade in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf bly Joshua na die Reën eg aan ‘n kenmerkende styl wat dieper delf as meeste radiotreffers.

De Villiers noem dat dit net vir hom ‘n voorreg is om saam met talentvolle mede musikante verhoë te kon deel en ‘n verskil kan maak met sy musiek in die afgelope 10 jaar.

“Vir my is God omvattend deel van waar ek vandag is. Ek het ‘n wonderlike gesin en dit is vir my belangrik om die lewe te vier en goeie herinneringe aanhou te bou.”

Exit mobile version