NewsNews

Man oorlede terwyl hy help met verwoestende brand

‘n Verwoestende veldbrand het astronomiese skade op ʼn reeks plase aangerig en ook die lewe van ʼn voorman in die Rooipoortjie distrik langs die Paryspad (R53) op Saterdag, 29 Julie geneem.

‘n Verwoestende veldbrand het astronomiese skade op ʼn reeks plase aangerig en ook die lewe van ʼn voorman in die Rooipoortjie distrik langs die Paryspad (R53) op Saterdag, 29 Julie geneem.

ʼn Voorman, Hennie Willemse (59) is aan ‘n hartaanval oorlede terwyl hy besig was om te help om beeste van kant te maak wat brandskade opgedoen het.

Jaco Pieters, ʼn plaaslike melkboer, vir wie Willemse vir die afgelope twee jaar gewerk het, het hom in sy bakkie gelaai en in Potch se rigting gejaag. ER24-nooddienste het hom naby Kleinplaas gekry en dadelik KPR toegepas. Hulle kon hom nie resussiteer nie en hy is dood verklaar.

“Hennie het voluit gehelp tydens die veldbrand en sy alles gegee. Daar het baie beeste en koeie gebrand en hul moes van kant gemaak word. Hennie het inmekaar gesak toe hy die laaste koei van kant wou maak. Ek het dadelik nooddienste gebel, en hul het omtrent ʼn uur lank hom probeer red, maar dit was te laat,” noem Pieters wie ook goeie vriende met Hennie was.

Hennie Willemse (59) is oorlede aan ‘n hartaanval terwyl hy gebrande koeie van kant gemaak het.

Volgens die voorsitter van die Potchefstroom Brandbeskermingsvereniging, dr. Kobus Roux, het die brand ongeveer 10:30 ontstaan weens ʼn persoon wat ʼn waentjie vuilgoed vervoer het waarop hulle ook warm as gegooi het.

“Dit het aan die brand geraak en die gras langs die pad op vier plekke, vyf kilometer uitmekaar, aan die brand gesteek,” verduidelik Roux.

Hierdie waentjie vuilgoed en warm as het die brand glo begin.

Mari Roets, die algemene bestuurder van die plaas by Makojalo, wat sy en haar pa, Kobus Delport, besit, noem dat die skade van die brand ongeveer 500 hektaar op hul gronde strek.

“Dit is ontsettend traumaties vir ons en die skade is astronomies en onmeetbaar. Ons doen ʼn beroep op die persoon wat die brand begin het om na vore te kom. Die persoon verstaan nie watter skade hulle aangerig het, nie net by ons nie, maar by talle boere in die area,” noem Roets ontsteld.

Roets-hul moes die afgelope naweek omsien na getraumatiseerde diere wat weens die brand erg seergekry het. Mokajalo is bekend vir hulle gesogte Angus beeste.

“Ons het beeste en koeie wat seergekry het en uitgesit moes word. Die kalfies moet gebottel voer word omrede die ma’s dood gebrand het, uitgesit moes geword het of hulle uiers is gebrand en kalfies kan dus nie suip nie. Dis ‘n baie intensiewe en duur behandeling wat  vir die diere voorlê,” noem Roets.

Van die diere se oë was toegebrand, hulle velle was af, en hul hoewe het begin los trek en bars. Van die diere is dood aan rook inaseming ook.

“Van die diere het ons gedink is dood, en as ons by hulle kom dan sien ons hulle leef nog en moes hulle van kant gemaak word,” vertel Roets.

Lede van die Brandbeskermingsvereniging was onmiddellik op die toneel om die vuur te beveg. Daar was oor die 100 bakkies en trokke wat gehelp het.

Dit was ‘n groot spanpoging om die brand onder beheer te kry weens die feit dat die wind teen 65km/h gewaai het, wat die taak aansienlik moeiliker gemaak het.

“Die sambreel Brandbeskermingsvereniging het vir ons twee Huey helikopters gereël en een grondspan van Working on Fire om te help. ʼn Privaat vliegtuig van Castello Boerdery het ook gehelp water gooi. J.B. Marks brandweer en die weermag se brandweer was ook op die toneel,” het Roux gesê.

Ander skade sluit in 15 vintage motorvoertuie sowel as een stroper en verskeie sleepwaens vol voer en mielies wat uitgebrand het, asook verskeie plaas implemente wat in die slag gebly het.

Working on Fire personeel het ook hard gewerk om die brand te blus.

Roets noem dat sy dankbaar is vir die gemeenskap wat hande bygesit het om die vuur te help blus.

“Mense het van so ver as Carletonville kom help en dit was wonderlik om die ondersteuning te sien in so moeilike tyd. Ons het Saterdag heeldag die brand beveg en dan is daar mense wat kos en water aan gedra het. Mense bel gereeld om te hoor hoe hulle kan help. Op hierdie stadium kort ons net hande om te kom help. Daar is ook ʼn dringende tekort aan bale en weiding vir die diere,” noem sy.

Dit is nog nie seker presies hoeveel hektaar altesaam in die area gebrand het nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button