Impak van sloot teenaan gholfbaan word bekyk

Jeanne Adriaanse, DA wyksraadslid in wyk 24, noem ook dat die sloot soos dit op die oomblik daar is, ‘n moontlike veiligheidsrisiko skep, aangesien die sloot diep is en die gevaar bestaan dat mense in die sloot kan val.

Amptenare van die J.B. Marks munisipaliteit, sowel as raadslede was Maandag, 10 Julie op die toneel by die sloot in Govan Mbeki-rylaan om ondersoek in te stel.

Volgens Jeanne Adriaanse, DA wykraadslid van wyk 24 waaronder die gholfbaan val, het omgewingsake vandeesweek ‘n ondersoek geloods om vas te stel wat die impak van die sloot in Govan Mbeki-rylaan op die omgewing is en of daar enige skriftelike toestemming vir die grawe daarvan verkry is.

Die Herald het verlede week berig dat hierdie sloot in Junie oorkant die gholfbaan van die Potchefstroom Buiteklub en teenaan die Epsilon-kragstasie in Govan Mbeki-rylaan gegrawe is.

Sloot by gholfbaan deel van ‘n groter volhoubare projek

Volgens Altus Snyman, wat die projek begin het, is die sloot in Govan Mbeki-rylaan gegrawe sodat die gholfbaan se groen vullis en gestorte bourommel in die sloot gestort kan word. Die einddoel is om die grond gelyk te maak en die omgewing te rehabiliteer.

Volgens hom het ‘n munisipale amptenaar, Gladstone Moumakwe, voormalige waarnemende munisipale bestuurder wat intussen oorlede is, die plan op skrif goedgekeur in 2013.

Adriaanse meen dat “alhoewel ons die insette om ‘n verskil te maak van elke inwoner opreg waardeer, is daar sekere stappe wat gevolg moet word. In die geval is die wykskomitee en huidige raadslede nie geken nie, en tot dusver kon daar nie vasgestel word dat skriftelike toestemming vir die grawe van die sloot verkry is nie. “Weens die feit dat die grond munisipale eiendom is, moet die munisipaliteit met in ag genome van toepaslike Omgewingswetgewing goedkeuring verleen.”

Die gehuggies kan vanaf Govan Mbeki-rylaan gesien word. Foto: Cornelia Hitge.
Hierdie heining is omtrent heeltemal afgesteel,” sê Altus Snyman. Foto: Cornelia Hitge.

Adriaanse noem ook dat die sloot soos dit op die oomblik daar is, ‘n moontlike veiligheidsrisiko skep, aangesien die sloot diep is en die gevaar bestaan dat mense in die sloot kan val.

“Daar is nie enige heining of waarskuwingsborde nie en dit skep ‘n wesenlike gevaar,” sê Adriaanse. Die feit dat die oorspronklike omheining verwyder is, help ook nie om die misdaadrisiko te bekamp nie. Daar was al voorvalle waar gholfspelers beroof en besteel is aangesien misdadigers maklik toegang tot die gholfbaan het.

“Onwettige vullisstorting is ‘n toenemende probleem wat dringend aangespreek moet word. Inwoners kan help deur diegene wat vullis op ander plekke stort as vullisterreine, te rapporteer aan die munisipaliteit en sodoende ‘n verantwoordbare en verantwoordelike groen samelewing daar te stel,” voer Adriaanse verder.

Snyman het ook aan die Herald bevestig dat ‘n amptenaar van omgewingssake hom geskakel het en saam met hom en Gawie Wolvaard (Greenkeeper van die Potchefstroom Buiteklub) die terrein besoek het.

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version