Paralimpiese swemmer inspireer verder met meestersgraad

Die Paralimpiese swemmer, Adri Visser, het een van haar grootste mylpale in haar lewe bereik toe sy haar meestersgraad in rekreasiekunde aan die Noordwes-Universiteit behaal het.

Die Paralimpiese swemmer, Adri Visser, het een van haar grootste mylpale in haar lewe bereik toe sy haar meestersgraad in rekreasiekunde aan die Noordwes-Universiteit behaal het.

Wat hierdie baanbreker meestersgraadstudie spesiaal maak is dat sy die eerste student met gestremdhede is wat hierdie graad aan die fakulteit gesondheidswetenskappe verwerf.

Adri is sonder hande en ‘n regterbeen gebore weens haar ma, Petro Marais, tydens haar swangerskap Duitse Masels gehad het. Dit het haar nie gekeer om in totaal vier grade op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus te verwerf nie. Haar gradeplegtigheid was op Dinsdag, 27 Junie.

Haar studie het ook ‘n persoonlike element aangesien dit op gestremde mense fokus en die kwaliteit lewe wat hulle ervaar ten opsigte van rekreasie aktiwiteite en die beskikbaarheid daarvan.

Adri Visser (regs) en haar studieleier, dr. Cindy Kriel.

Dit is ‘n veld wat nog nie bestudeer was nie, maar Adri was doelgerig om haar doelwitte te bereik, al het dit baie trane van hartseer, mismoedigheid en blydskap geverg.

“Dit was ‘n ongelooflike reis gewees tot nou. Ek is nou eers klaar studeer en trots op my studenteloopbaan. Om die meesters te voltooi was nie altyd maklik nie, maar om op die verhoog te stap en my graad te ontvang was uiters spesiaal. Dit maak alles die moeite werd. Niemand kan dit van my wegvat nie,” vertel Adri opgewonde.

“Dit was regtig ‘n hoogtepunt dat my sussie, Ilza, ook by my gradeplegtigheid kon wees. Sy was voorheen nog nie daar nie. Dit het baie vir my beteken. Ek het ook op Tik-Tok ‘n video gemaak saam met ‘n liedjie van Tiaan Massyn (Die Son Kom Op) wat my tans in die seisoen waarin ek nou is, baie motiveer. Dit is sulke herinneringe wat ek koester op een van die beste dae van my lewe.”

Haar meesterstudie is getiteld “Relationships between leisure participation, leisure constraints and quality of life of individuals with lower-limb amputations in South Africa.” Haar studieleiers was Dr. Cindy Kriel en Prof. Mariëtte Swanepoel.

“Ek wou graag hierdie studie aanpak om ‘n voorbeeld te wees en te wys dat mense met gestremdhede ook belangrik is. Ek dink dit is belangrik dat daar nie ‘n persepsie moet wees oor hoe ons dink en die lewe ervaar nie, maar dat daar fisies met ‘n studie gesien kan word hoe gestremde mense rekreasieaktiwiteite ervaar en hoe dit hul lewenskwaliteit beïnvloed,” noem sy.

Visser vertel dat die studie positiewe resultate opgelewer het en dat die bevindinge beslis interessant was.

“Daar is in my studie bewys dat rekreasieaktiwiteite ‘n positiewe effek op die deelnemers het en dit wys dat daar beslis ook verder studies gedoen kan word om ‘n verskil in mense met gestremdhede se lewens gemaak kan word.”

Sy is ook ongelooflik dankbaar vir die ondersteuning van haar familie, vriende en die Here met haar meestersstudie wat baie uitdagend was.

“Sjoe, daar was tye wat ek net wou opgee, maar ek het aangehou omdat ek geweet het wat ek wil bereik met ‘n groter doel voor oë. Ek sal dit nie sonder ondersteuning kon doen nie. Ek dra die studie op aan my beste vriend en biokinetikus, Abie van Oort wat my gedurig motiveer het en daar was vir my. Hy het dit vir my moontlik gemaak om verby my gestremdhede te kyk en my drome na te jaag. Hierdie is buiten swem, my grootste prestasie. Filippense 4:13 “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee,” het my gedra.”

Adri Visser en haar beste vriend, Abie van Oort.

Visser het vanaf 2001-2016 kompeterend geswem en ook vir drie Paralimpiese Spele (2008 2012, 2016) gekwalifiseer. Sy het aan die 2008 Spele in Beijing deelgeneem. Sy het ook 6 Afrika-rekords agter haar naam.

Tans is sy nog opsoek na werk in haar rigting, en is ook betrokke by Vaal Stereo as ‘n aanbieder.

“Ek geniet dit om onderhoude met mense te voer en meer van hulle lewe ook te leer. Dit is inspirerend,” noem Adri wat ook motiveringspraatjies van tyd tot tyd lewer.

Die toekoms is blink vir Visser wat aanhou om struikelblokke te oorkom en terselfdertyd ook brûe te bou.

“Geloof dra ‘n mens deur en as ek hoop dat ek in alles wat ek doen ‘n inspirasie vir ander kan wees.”

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version