Sloot by gholfbaan deel van ‘n groter volhoubare projek

Die sloot in Govan Mbeki-rylaan is gegrawe sodat die gholfbaan se groen vullis in die sloot gestort kan word. Die einddoel is om die grond gelyk te maak en die omgewing te rehabiliteer.

‘n Paar weke gelede het ‘n groot hoop grond tussen die Potchefstroom Buiteklub en die Epsilon kragstasie verskyn.

Hierdie diep sloot het Potchefstromers aan die praat. Daar is verskeie teorieë wat die rondte doen, onder andere dat die sloot gegrawe is om Smitstraat se stormwater te herlei.

‘n Lugfoto van die sloot
wat gegrawe is sodat
die Potch Buiteklub
hulle groen vullis in die sloot kan stort.
Hier is die sloot besig om gegrawe te word.

Die feite is wel baie eenvoudiger.

Altus Snyman, ‘n ervare boutekenaar, het in samewerking met Gawie Wolvaard, Greenskeeper van die Potchefstroom Buiteklub, en ander belanghebbendes hierdie sloot laat grawe as deel van ‘n projek vir die Potchefstroom Buiteklub wat al meer as 10 jaar terug met goedkeuring van die munisipaliteit en wyksraadslede, geloods is.

Die Departement van Openbare Werke het in Mei ‘n graafmasjien verskaf waarmee die sloot uitgegrawe is.

Snyman sê die sloot is gegrawe sodat die gholfbaan se groen vullis in die sloot gestort kan word. Die einddoel is om die grond gelyk te maak en die omgewing te rehabiliteer.

Geen ander rommel sal in die sloot gestort word nie. Die sloot gaan nie gebruik word om dorpsrommel in te stort nie. Potchefstromers moet steeds hul groen vullis en ander rommel by die asgate gaan aflaai.

“Baie mense kom gooi net hul gemors hier,” sê Snyman terwyl hy na ‘n hoop bourommel wys. “Die bourommel en ander afval wat mense hier kom gooi is nie bioafbreekbaar nie en beskadig die omgewing.”

Hier is satellietfoto’s wat wys hoe die area verander het die afgelope 18 jaar (Foto’s: Google Earth)

“In 2012 het ons begin om hierdie gebied gelyk te maak,” sê Snyman. Daar was jare terug planne om die oop stuk gras tussen die oorspronklike gholfbaan grens en die Epsilon-kragstasie in ‘n “driving range” te verander,” noem Snyman.

Baie Potchefstromers het bourommel en alle ander rommel daar kom stort.  “Na ‘n hele paar jaar het dit hand uit geruk. Mense het net enigiets hier kom gooi, dit het ‘n gemorsspul geword,” sê Snyman.

Die gebied is redelik gelyk gemaak nadat die bourommel en ander vullis gelyk gestoot is, en die gate met grond gevul is en gelyk gemaak is. “Die rietbos is die enigste oorblywende probleem,” sê Snyman.

“Daar lê yslike rotse tussen die riete, en daar is ‘n hele paar gate ook. Die volgende stap is om Hierdie bourommel in die sloot te stoot en dan van die rietbos ontslae te raak, maar ons het nie die masjinerie nie.” Misdaad in hierdie area is ook ‘n probleem en een van die redes waarom hierdie area tussen die gholfbaan en die kragstasie netjies en skoon gehou moet word.

Volgens Wolvaard is die idee vir die sloot om nie net die rommel skoon te maak nie, maar ook terselfdertyd om misdaad te keer en die area skoon te kry.

“Baie van die items wat tydens inbrake oorkant die pad gesteel word lê dan tussen al die bourommel. Misdadigers het ook al lede geteiken tydens gholfdae omdat daar nou al teenaan die gholfbaan geplak word met maklike toegang sonder die heining,” noem hy.

Hierdie heining is omtrent heeltemal afgesteel,” sê Altus Snyman. Foto: Cornelia Hitge.

Snyman wys na gehuggies wat vanaf Govan Mbeki-rylaan gesien kan word.

“Hier bly ongeveer 12 mense hier,” sê Snyman. Rondom die gehuggies kan klomp gemors en afval gesien word. Snyman sê dat die finale stap is om ‘n veilige, netjiese omgewing te hê. “Ek glo nie hier sal ooit iets gebou word nie aangesien die bourommel so vlak onder die grond lê, maar dit sal mooi en skoon wees.”

Die betrokke wyke, wyk 5 en wyk 24, benodig geld of masjiene om die projek te kan voltooi en die omgewing te rehabiliteer.

Indien die publiek wil bydra tot ‘n netjiese, veilige omgewing, of masjiene kan verskaf, kontak vir Altus Snyman by 082 682 5360.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version