Local newsNewsNews

NWU loods ondersoek na eksamenvraestel uitlek

Op Vrydag 9 Junie is die betrokke wiskundevraestel verkeerdelik by twee van die vyf lokale op die Potchefstroomkampus versprei. Dié vraestel was die eksamenvraestel wat die studente op Dinsdag, 13 Junie sou skryf.

Daar heers ongelukkigheid by sekere Noordwes-Universiteit eerstejaarstudente en hul ouers nadat foto’s van ‘n wiskunde vraestel deur studente versprei is.

Op Vrydag 9 Junie is die betrokke wiskundevraestel verkeerdelik by twee van die vyf lokale op die Potchefstroomkampus versprei. Dié vraestel was die eksamenvraestel wat die studente op Dinsdag, 13 Junie sou skryf.

Nadat die fout agter gekom is, het die toesighouers gevra dat die vraestelle ingehandig word. Sommige studente het nie die vraestel aan die toesighouers terugbesorg soos versoek nie.

Die vraestel is met hul medestudente gedeel om vir Dinsdag, 13 Junie se geleentheid voor te berei.

Een van die studente wat die Herald mee gesels het, het gesê dat sy die verkeerde vraestel daardie Vrydag ontvang het, maar dadelik aan die toesighouer terugbesorg het. Sy was ook nie bewus dat die vraestel later versprei is nie.

‘n Onstelde ouer het aan die Herald verduidelik dat sy nie kon verstaan hoekom daar nie ‘n nuwe eksamengeleentheid opgestel kon word met die wete dat die vraestel gelek was nie.

“Dit is nie regverdig teenoor die studente wat eerlik was en hard geleer het vir die eksamen nie,” het die ouer gesê.

NWU woordvoerder, Louis Jacobs, het by navraag genoem dat die universiteit van die voorval bewus is en dat die Registrateur ‘n ondersoek geloods het direk nadat die aangeleentheid aan die lig gekom het.

“Akademiese integriteit is ononderhandelbaar vir die Noordwes-Universiteit. ‘n Onafhanklike maatskappy is verantwoordelik vir die verspreiding van alle vraestelle,” het Jacobs verduidelik.

“Omrede daar soveel aspekte en partye betrokke is by die aangeleentheid, wil ons verseker dat dit met alle omsigtigheid en deursigtigheid hanteer word. Die saak word met erns hanteer, en alle betrokke partye sal oor die uitslag ingelig word. Dit is vir die NWU van kardinale belang dat geen betrokkenes, benadeel of bevoordeel word nie,” het Jacobs gesê.

Die betrokke dosent het op die aanlyn e-Fundi platform ‘n boodskap aan studente na afloop van die eksamengeleentheid gestuur waar die optrede van oneerlike studente ten sterkste veroordeel word.

“Dit is ‘n baie ongelukkige gebeurtenis, aangesien studente wat by ‘n universiteit inskryf, inskryf om ‘n professionele loopbaan te volg waar die lewens van ander mense van hul optrede sal afhang. ln ‘n professionele werkplek geld dieselfde waardes soos deur die NWU onderskryf. As jy bereid is om ‘n onvoorsiene situasie te misbruik deur oneerlik op te tree om jouself bo ander studente te bevoordeel in ‘n eksamen, hoe ver sal jy bereid wees om te gaan in die werkplek waar jy dalk verantwoordelik is vir groot bedrae geld wat nie joune is nie?” lees die boodskap wat die Herald onder oë gehad het.

Related Articles

 
Back to top button