Local newsNewsNews

Onderwysers van Potch skitter by toekenningsfunksie

Mariscka Venter, ‘n graad 1 onderwyseres van Laerskool President Pretorius is as die wenner van die “Excellence in Primary School Teaching”-kategorie aangewys.

‘n Paar top onderwysers van Potchefstroom is die afgelope week vir hulle harde werk en toewyding vereer by die J.B. Marks Plaaslike Onderwyskantoor van die 2023 Nasionale Onderwystoekennings.

(Kliek hieronder vir die lys van wenners)

Hierdie gala-funksie het Donderdag, 15 Junie by Laerskool President Pretorius plaasgevind.

Die Nasionale Onderwystoekennings kompetisie vereer die top onderwysers regoor Suid-Afrika. Die finaliste en wenners van JB Marks gaan nou die Dr. Kenneth Kaunda distrik in die provinsiale uitdunne van die kompetisie verteenwoordig.

Mnr. Terry Nicholenas (hoof van Hoër Volkskool Potchefstroom) is die wenner van die Kader Asmal Lifetime Achievement Toekenning. Me. Adéle Human van Potchefstroom Girls High is as die wenner in die Excellence in Secondary School Teaching-kategorie aangewys Mnr. Nicholenas vertel dat dit ‘n besondere voorreg is om hierdie toekenning te kan ontvang.

Mnr. Terry Nicholenas
(hoof van Hoër Volkskool
Potchefstroom) is die
wenner van die Kader
Asmal Lifetime Achievement Toekenning. Foto’s:
Wouter Pienaar.

“Na al die jare in die onderwys, word ‘n hoof deur sy kollegas waardeer. Na alles, word die insette in die lewe van jongmense raakgesien en waardeer. Dit is vir my, as persoon, fantasties om my loopbaan op hierdie wyse af te sluit. Baie dankie aan my vrou wat my ondersteun het in my werk. Dankie aan die span by die skool wat my ondersteun. Dankie vir Volkies en die ander skole, wat dit vir my moontlik gemaak het,” noem hy.

Me. Uvalde Swanepoel (wiskunde-onderwyseres by Hoër Volkskool Potchefstroom) is as die naaswenner in Excellence in Teaching Mathematics (FET)-kategorie benoem. Me. Mosetsanakhumo Motswenyane van HTS Potchefstroom is die wenner in die bogenoemde kategorie.

Me. Mosetsanakhumo Motswenyane van HTS Potchefstroom is die wenner van die Excellence in Teaching Mathmatics (FET)-kategorie.

Om in aanmerking te kom moet onderwysers vir ten minste twee jaar by ‘n skool werk, by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SARO) geregistreer wees en ‘n onderwyskwalifikasie hê.

Me. Rita Clarke, senior adjunkhoof van Hoërskool Die Wilge, is as die wenner in die Excellence in Special Needs Leadership-kategorie aangewys.

“Dit is ‘n besonderse eer om die toekenning te kon ontvang as wenner van die sub-distrik omdat spesiale skole se leierskap nie altyd toekennings gekry het nie. Dit is die eerste jaar waar daar so kategorie is. Dit beteken ongelooflik baie dat ek saam met ander leiers geevalueer word en dit plaas Die Wilge weer op die kaart,” vertel Clarke.

Me. Rita Clarke, senior adjunkhoof van Hoërskool Die Wilge (middel), is as die wenner
in die Excellence in Special Needs Leadership-kategorie aangewys.

Volgens Clarke het die deelname aan die kompetisie haar as mens onwikkel en laat groei in haar beroep. “Die hele proses van voorbereiding het my professioneel ontwikkel en help my in my daaglikse leierskapposisie om ‘n beter bestuurder te wees en my personeel beter te verstaan. My menseverhoudings het ook baie verbeter,” noem sy.

“Die feit dat ‘n mens ‘n verskil in personeel en kinders se lewens kan maak is baie belangrik. As onderwyser moet ek steeds by beleide en wetgewing hou, ten spyte van die feit dat ek baie leierskapstake en verantwoordelikhede het. Ek is ook ‘n koshuismoeder en die navorsing help my ook om my skool te verbeter. Dit maak die personeel en leerders trots en verbeter ook die beeld van die skool wat na buite toe gaan. Dit is ‘n ongelooflike eer en voorreg om as wenner op die verhoog te kon staan. Ek wil vir mev. Dawn Poonawassy (organiseerder) en die hele paneel dankie sê vir die erkenning wat ‘n mens met deelname aan die kompetisie kry. ‘n Mens se basiese behoeftes word deur hierdie deelname verwesenlik,” sê Clarke.

Mariscka Venter, ‘n graad 1 onderwyseres van Laerskool President Pretorius is as die wenner van die “Excellence in Primary School Teaching”-kategorie aangewys.

“Dit is ‘n groot eer veral omdat die skool my ingeskryf het vir die kompetisie. Ek het nie verwag om te wen nie. Ek het baie uit die ervaring geleer, veral om ‘n spesifieke voorlegging op te stel,” vertel sy.

Venter het in 2016 begin skoolhou nadat sy haar graad in seniorfase onderwys voltooi het. Haar eerste pos was by Hoërskool Carletonville. Sy het daar besef dat sy eerder met intermediêre en grondslagfase wil werk.

Mariscka Venter, ‘n graad 1 onderwyseres van Laerskool President Pretorius is as die wenner van die “Excellence
in Primary School Teaching”-kategorie
aangewys.

“Ek was drie jaar vanaf 2017-2019 by die LSEN junior klas by Laerskool President Pretorius en in 2020 by graad 1’s gewees. Ek het ‘n oorbruggingskursus gedoen om grondslagfase onderwys as my fokuspunt te kies wat ek met onderskeiding verwerf het,” noem sy.

Vir Venter is onderwys ‘n roeping en besef sy daagliks tussen al die hoogte- en laagtepunte dat sy elke dag met ‘n doel klasgee.

“Onderwys is moeilik en baie mense kyk baie keer neer op onderwysers. Ons maak wel die toekomstige leiers van die land groot. Ons het die kans om die wêreld te verander. Ons beroep is so belangrik. As ek aan die einde van die skooljaar ’n verskil in net een kind se lewe kan maak is dit genoeg. As onderwysers bou ons aan die toekoms van ons land.”

 

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button