‘n Duisend teddiebere vir ‘n duisend glimlagte

Huis Eikelaan het in samewerking met Laerskool Baillie Park ‘n teddiebeer-projek begin met die mikpunt om 1000 teddiebere in te samel.

Huis Eikelaan het in samewerking met Laerskool Baillie Park ‘n teddiebeer-projek begin met die mikpunt om 1000 teddiebere in te samel. Inwoners van Huis Eikelaan het reeds 200 bere gebrei, terwyl daar ook 800 teddiebere vanuit ander oorde ingesamel is.

Izelle Kruger, maatskaplike werker by Huis Eikelaan vertel dat daar ‘n groot behoefte is vir minderbevoorregtes.

“Verlede jaar het Huis Eikelaan ‘n projek begin om komberse in te samel vir minderbevoorregtes.
Hierdie jaar het hulle besluit om teddiebere in te samel. Die teddiebere gaan na kinders met kanker sowel as mishandelde kinders,” noem Kruger.

Foto’s: Verskaf

In albei die projekte het Huis Eikelaan saam met Laerskool Baillie Park gewerk om komberse en teddiebere in te samel.

“Dis ongelooflike kinders, hulle is altyd bereid om te help,” sê Kruger. “Die bejaardes is net so lief om te help, hulle is dierbare mense.”

Leandra Rootman, die onderwyseres by Laerskool Baillie Park wat in beheer is van die leiers, het saam met Kruger gewerk om die projek te koördineer. Huis Eikelaan se bejaardes beoog om na afloop van die teddiebeer-projek weer hul kombers-projek te hervat. Die bejaardes hekel komberse wat dan by staatshospitale en plakkerskampe afgegee word.

“Ons het seker al sowat 3 000 produkte uitgegee,” sê Kruger. “Dit maak my hart bly dat mense wil gee.”

Indien jy teddiebere of komberse wil skenk, laai dit af by Huis Eikelaan se sekuriteit by die ingang, of kontak Izelle by 082 706 0363.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version