Local newsNewsNews

Studente wil verskil maak met sampioenskoene

Vier honneursstudente in besigheidsbestuur aan die Noordwes-Universiteit het as deel van ‘n kompetsie-inskrywing (Hult Prize Challenge) met die konsep vir Funkgy Footwear begin - waar skoene uit miselium, die wortelagtige stelsel van sampioene, geproduseer kan word.

Om skoene uit materiaal vanaf sampioene te vervaardig is nie absurde wensdenkery nie, maar ‘n realiteit wat as alternatief vir die leerindustrie gebruik kan word.

Vier honneursstudente in besigheidsbestuur aan die Noordwes-Universiteit het as deel van ‘n kompetsie-inskrywing (Hult Prize Challenge) met die konsep vir Funkgy Footwear begin – waar skoene uit miselium, die wortelagtige stelsel van sampioene, geproduseer kan word.

Hierdie studente is Le Roux Barnard, Margot van der Merwe, PJ Prinsloo en Madelein de Jager.

Hulle het hierdie projek onder leiding van hul dosent in ondernemingsbestuur, me. Lerato Mohalajeng aangepak.

So gemotiveerd en gereed was hierdie studente dat hulle die interuniversiteits-kompetisierondte vanjaar met hulle Funkgy Footwear konsep gewen het.

Hierdie groep is ook uit 32 000 besighede wêreldwyd gekies om aan wêreldwye beraad deel te neem. Hulle kon ongelukkig nie fisies aan die semi-finale rondte in Nairobi deelneem nie, weens ‘n gebrek aan fondse.

Die hoofrede vir die gebruik van sampioen as ‘n leeralternatief is om water te bespaar en ‘n meer eko-vriendelike produk te skep wat die gemeenskap op talle maniere bevoordeel.

“Ons het gaan navorsing doen en gesien dat dit 8 000 liter water neem om een paar leerskoene te maak. Met ons produk spaar ons 99% water en sodoende gebruik ons net 80 liter water per skoen,” vertel Le Roux Barnard, een van die groepslede.

Een van die vereistes van hul dosent is dat hul ‘n produk skep wat die Verenigde Nasies se doelwitte vir volhoubare ontwikkeling in die modebedryf aanspreek. Hierdie projek word vir die Hult Prize Challenge vir deelnamepunte ingeskryf.

Margot van der Merwe, Le Roux Barnard, Madelein de Jager en PJ Prinsloo – die vier honneurs bemarkingstudente after Funkgy Footwear. Foto: Verskaf.

“Ons wil definitief hierdie konsep nou verder neem en ‘n mark vir skoene wat van sampioenleer gemaak is, in Suid-Afrika skep. Een van ons inisiatiewe is dat ons aan die gemeenskap ook wil teruggee. Mense wie se skoene deurgeloop is kan dit vir ons bring dan herstel ons dit en gee dit aan behoeftige gemeenskappe,” noem Barnard.

Hierdie groep was ook as deel van hul navorsing by die Denny Mushrooms fabriek op die N14 naby Randfontein. Hier het hulle gesien hoe miselium groei en ook meer oor die prosesse agter sampioenvervaardiging geleer.

“Ons hoofdoel is om ons eie maatskappy te kan begin en beleggers te kan werf wat in ons produk glo. Ons het groot planne om ‘n verskil te maak, water te bespaar en ons land te verander,” vertel Barnard.

* Vir meer inligting, kontak vir Barnard by lerouxbarnard1@gmail.com en die ander groepslede by die volgende e-pos addresse: Margot.vdmerw@gmail.com, Pjprinsloo8@gmail.com, Madeleindejager17@ gmail.com.

 

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button