Cloete-gesin dankbaar vir gemeenskap se harte na huisbrand

"Mense gee regtig om en dit laat mens net weer in die algemene goedheid van mense glo. Ons kan nie genoeg dankie sê nie."

‘n Verwoestende huisbrand het op Saterdagaand, 10 Junie vir Rouxan en Christi Cloete se huis en al
hul materiële besittings in slegs ‘n paar ure in ‘n puin gelos, maar uit hierdie pynlike ervaring het hul die barmhartigheid en liefde van die Potchefstroomse gemeenskap opnuut ervaar.

“Dit is ongelooflik hoe almal saamstaan en ons help in hierdie tyd. Dit was mens nie aan dink nie sorg
hulle voor. Ons kry etes, benodighede soos tandeborsels, klere en als wat mens as vanselfsprekend
ervaar. Mense gee regtig om en dit laat mens net weer in die algemene goedheid van mense glo,” vertel Christi, wat nou saam haar gesin by Rouxan se ouers woon.

Die gemeenskap het sedert die brand Sateragaand die Cloetes se huis verswelg het, saamgespan om
kos, klere en ander benodigthede vir die Cloete’s te organiseer.

Die Cloete-gesin, hul drie kinders, Esli, Stiaan en Lika, sowel as hul honde is fisies ongedeerd en kon uit die huis kom voor die vlamme alles omring het.

Hier is foto’s van die skade wat die brand aangerig het:

Christi vertel dat die brand op die boonste vloer in die hoofslaapkamer uitgebreek het. Op daardie stadium was die hele gesin op die onderste vloer waar hulle rustig besig was om te
ontspan en fliek te kyk.

“Ons het ‘n matras ingerig en net voor die tv in die woonkamer fliek gekyk. Rouxan, Stiaan en Lika het
aan die slaap geraak, maar ek en Esli het nog fliek gekyk. Die krag het so net na 22:00 aangegaan,
maar toe wou die TV nie werk nie. Ek het eers gedink die TV het geblaas,” vertel Christi.

Christi vertel dat hul kort daarna ‘n groot klapgeluid gehoor het wat soos hael klink.

”n Venster het gebars en ons dink toe dis dalk inbrekers. Die krag het toe weer afgegaan. Rouxan het toe na die kragkas gehardloop en toe sien hy rook wat by die trappe afkom. Ek is toe met die trappe op en toe sien ek die vuurbol by ons kamer. Ons is toe uit die huis met die kinders, honde en my karsleutels om net weg te kom van die gevaar af,” vertel Christi.

Sy vertel dat sy eers gesukkel het om die brandweer in die hande te kry en toe vir bevelvoerder van die Potchefstroom polisiestasie, brig. Steven Moodley geskakel het om hulp te ontbied.

“Binne vyf minute het hy my teruggebel en laat weet dat die brandweer, Mooirivier Beskerming en
ER24 ambulansdienste op pad is.
Ons bure sowel as ons tuinvoorman, Jantjie het ook ontsettend baie gehelp om die houtheinings en boomtakke af te saag sodat die brandweer die brand kan blus,” vertel sy.

Hul beste vriende het ook die kinders kom haal sodat hul nie verder die traumatiese gebeure moet beleef nie.

Sy onthou ook hoe Jantjie ‘n baie kalmerende en nugter invloed gehad het en daaraan gedink het om haar japon in die waskamer te gaan haal sodat sy nie koud kry nie.

“Dis sulke klein goed wat net mense se harte wys. Mooirivier Beskerming se mense het byvoorbeeld in die huis gegaan in ons leefarea en ‘n paar items soos Rouxan se kitaar, die kinders se
skooltasse en ons televisie betyds uit die huis gekry. Hulle het ook al die gasbottels ontkoppel en uitgedra,” noem Christi dankbaar.

Teen 03:00 is die vuur geblus en is Christi-hul na haar skoonouers se huis letterlik met net die klere aan hulle lywe.

Die Cloete’s het op hul Facebookblad op Woensdag, 14 Junie, ‘n kort boodskap van dankbaarheid teenoor die gemeenskap gedeel.

“Ons sien hoe vriende, kollegas en familie van naby en van vêr, opdaag en gee sonder twyfel.
Ons trane lê vlak, ons harte loop oor en ons staan verstom oor die goedheid en bereidwilligheid van mense.

Met mense soos julle in ons lewens gaan ons hierdie tragedie omskakel in ons grootste getuienis van onvoorwaardelike Liefde. Iemand het in die week vir ons gesê ‘Die toekoms is waarvoor jy lewe die verlede is waarna jy terugkyk’ – sò ‘n eenvoudige stelling.

Vir ons 5 Cloete’s is dit die betekenis van hoop. Ons kyk nou net vorentoe.”

Die gemeenskap kan ook ‘n finansiële bydrae lewer na die volgende rekening:
C. Cloete
Absa
Tjekrekening
Rekeningnommer: 4078983593
Takkode: 632005

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version