Local newsNewsNews

Aardklop gaan die kunste in die mooiste maand laat skitter

Feesgangers en kunsliefhebbers kan uitsien na ‘n keurige keuse van toneel, musiek en visuele kuns, terwyl die alombekende feesterrein op die NWU se Joolplaas teen die oewer van die Mooirivier, weer vir ‘n onvergeetlike koop en kuier-ervaring sal sorg.

Die 2023 Aardklop Nasionale Kunstefees vanaf 3-8 Oktober gaan vanjaar ongetwyfeld weer eens ‘n kunste belewenis vir Potchefstromers en feesgangers oral in Suid-Afrika wees.
Met groot afwagting is die program Dinsdag, 13 Junie by die Noordwes-Universiteit se Heimat-saal op kampus bekendgestel.
Feesgangers en kunsliefhebbers kan uitsien na ‘n keurige keuse van toneel, musiek en visuele kuns, terwyl die alombekende feesterrein op die NWU se Joolplaas teen die oewer van die Mooirivier, weer vir ‘n onvergeetlike koop en kuier-ervaring sal sorg.

Kyk die foto’s hier: (Foto’s: Wouter Pienaar)

Dagkaartjies vir die feesterrein kos R50, terwyl weekkaartjies R150 per person kos.

Kinders onder 12 kry gratis toegang. Alexa Strachan, Momentum Beleggings Aardklop feesbestuurder, het met ‘n groot glimlag oor die hoogtepunte van die program gesels.

“Vanjaar se program is saamgestel om aan elke feesganger en kaartjiekoper iets te bied: Jy kan bloot kom ontspan by die feesterrein; of jy kan jouself verloor in die allermooiste musiekteater; skaterlag vir komedies; besin oor waar ons as unieke Suid-Afrikaanse samelewing ons bevind; saampraat tydens ons gesprekke of in verwondering staan voor ’n kunswerk,” noem Strachan.

Aardklop is terug met mening en ons is vol vertroue dat die fees net van krag tot krag sal gaan. Ons
sien uit na ons voortgesette vennootskap en om die interessante en opwindende pad saam met die
bestuur van Aardklop te stap,” noem dr. Fränzo Friedrich – Bemarkingshoof: Momentum Beleggings.

Nataniël bring ‘n splinternuwe vertoning getiteld Ring van Vuur na Aardklop saam met ‘n klomp
uitsonderlke musikante. Karen Zoid is ook terug met haar vertoning Pitch>Swift<Strum.

Albei hierdie produksies is iets wat nie misgeloop kan word nie.
Aardklop se musiekproduksies kan ook nie sonder die talentvolle Rocco de Villers nie en vanjaar gee hy glans aan boeremusiek met Boeremusiek-RoccoStyl.

Anna Davel, Amanda Strydom, Matthys Roets, Jannie Moolman en
Jannie du Toit is nog enkele van die room van Afrikaanse kunstenaars wat gehore by Aardklop sal
bekoor.
Toneelproduksies sluit ook in Die moeder, Mirakel, Hoerkind, Mixtape van die liefde en Droomwerk wat elders in die land alreeds opslae gemaak het. Gesoute akteurs en aktrises soos Dawid Minnaar, Sandra Prinsloo en Edwin van der Walt speel in Reza de Wet se Mirakel. Mirakel is vir vyf Kanna-pryse benoem, onder meer beste teaterproduksie, beste regisseur, beste ontwerp en beste ensemble.
Dawid Minnaar is bekroon as beste akteur.

Debuutproduksies wat die aandag sal trek is Goed wat wag om te gebeur, 1, en Die vrou op die dak om net ‘n paar te noem.
Die sprokiesagtige Braam en die engel, deur die bekroonde teatermaker Nico Scheepers, met onder
andere Joanie Combrink, De Klerk Oelofse en Rehane Abrahams, is ‘n
produksie wat die klem op hoop en vriendskap lê en is iets wat die hele
gesin sal geniet.

Buiten musiek en teater is The Roots Sonkamer ook die plek
waar boekwurms en diegene wat aktuele sake geniet bymekaar sal drom.

By Aardklop is die boekgesprekke altyd ‘n treffer waar gesprekke met wêreldklas skrywers soos Marita van der Vyver, Leon van Nierop en Madelein Rust gevoer sal word.

Aktuele gesprekke word gelei deur onder andere Beeld-redakteur Barnard Beukman, diskoers gelei deur Lourensa Eckard van kykNET se In Gesprek, en die gewilde Sake & Sauvignon met Theo Vorster.

Springbokondersteuners kan ook kom luister na Dawie Boonzaaier oor wie die beste Springbokke van die moderne era is wanneer hy kom gesels oor Rapport se 30 Beste Bokke sedert 1992.

Aardklop sluit ook oudergewoonte af met die Aardklop Langtafel in Lovers Lane op Kampus, terwyl die tradisionele koor- en orkesuitvoering in die Beeld Ouditorium, Calling All Dawns, letterlik die fees op ‘n fantastiese noot eindig.
Kaartjieverkope vir die publiek open amptelik Maandag, 19 Junie. Aardklop Hartsvriende kry voorkeur en kan reeds Vrydag, 16 Junie kaartjies koop.

Lees meer hieroor op https://aardklop.co.za/hartsvriende/)

Kaartjies is beskikbaar by www.ticketpros.co.za

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button