Local newsNewsNews

Geweerskoot na botsing in Louwstraat: Man neem glo eie lewe

'n Man is vroeg Saterdagoggend (3 Junie) omstreeks 03:25 oorlede toe hy vermoedelik sy lewe geneem het nadat hy in ‘n muur in Louwstraat vasgery het.

‘n Man van De Aar is vroeg Saterdagoggend (3 Junie) omstreeks 03:25 oorlede toe hy vermoedelik sy lewe geneem het nadat hy in ‘n muur in Louwstraat vasgery het.

Die man, Donavan Claassen (28), is met ‘n skietwond in sy kop op die grond gevind.

Volgens Noordwes polisiewoordvoerder, kapt. Sam Tselenyane, is die polisie omstreeks 02:43 na die ongelukstoneel ontbied waar hulle met hul aankoms ‘n wit Ford Ranger gewaar wat in ‘n muur ingeploeg het.

Donavan Claassen word onthou as ‘n mens met ‘n pragtige hart. Foto: Facebook.
Donavan Claassen en sy verloofde, Maritha Albertyn. Foto: Facebook.

“Lede van Mooirivier Beskerming wat eerste op die toneel opgedaag het, het aan die polisie probeer verduidelik wat gebeur het. Kort daarna is ‘n geweerskoot gehoor,” vertel Kapt. Tselenyane.

Polisie het in die rigting van die skoot beweeg en toe vir Claassen met ‘n skietwond in sy kop gewaar.

“Mediese nooddienste en alle ander rolspelers is ontbied en die bestuurder is op die toneel dood verklaar,” voer Tselenyane verder aan.

Volgens Tselenyane word die saak nog verder ondersoek.

Sy familie en mense wat na aan hom was, is nog geruk deur sy onverwagse dood.

Sy verloofde, Maritha Albertyn (25) vertel dat haar hart in twee geskeer is.

“Donavan was ‘n verskriklike trotse mens. Alles wat hy gedoen het was presies, voluit en passievol. Hy kon almal laat beter voel, hy was vir my my grootste inspirasie. Alles wat hy gedoen het, het hy voluit gedoen.
Hy het ook die hele wereld op sy skouers gedra. En ons vermoed dat die motorongeluk hom soos ‘n mislukking laat voel het, en hy het geen ander uitweg gesien nie. Ek verstaan hoekom hy dit gedoen het. Hy was moeg, al was hy die sterkste man wat ek geken het. Hy was meer as wat woorde kan beskryf,” vertel sy.

Op sosiale media is daar ook boodskappe van medelye gedeel.

“Ons woorde is min en trane is baie! Ons sal jou onthou vir die briljante elektrisiën, solar installeerder, voorbeeld vir die ander en pragtige mens wat jy was,” deel Mientjie Marais op Facebook.

Netwerk24 berig dat Claassen, ‘n elektrisiën en restaurant-eienaar was en ten tyde van sy dood in Potchefstroom vir werk was.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button