Local newsNewsNews

Argitek wen geleentheid om natuurlike eko-vriendelike huis te bou

Venter is een van vier Suid-Afrikaners wat deel die 100 gelukkige wenners wêreldwyd is. Haar idee om ‘n Afrika-geïnspireerde woning uit natuurlike materiaal uit die omgewing te bou, het die beoordelaars beïndruk.

‘n Argitek se droom om ‘n moderne klip en modderhuis net buite die hart van Potchefstroom te bou, het vlerke gekry toe sy onlangs as deel van ‘n kompetisie, ‘n toelaag van $ 100 000 gekry het.

Juané Venter is een van 100 gelukkige wenners van die AirBnB OMG! fund-kompetisie waarvoor deelnemers regoor die wêreld kon inskryf. Hierdie kompetisie gee mense die geleentheid om die idee vir ‘n unieke huis/woning in te skryf met die hoop om hulle droom in ‘n realiteit oor die volgende 10 maande te verander.

Venter is een van vier Suid-Afrikaners wat deel die 100 gelukkige wenners is. Haar idee om ‘n Afrika-geïnspireerde woning uit natuurlike materiaal uit die omgewing te bou, het die beoordelaars beindruk.

‘n Voorstelling van hoe die moderne Afrika-geinspireerde eko-vriendelike huis gaan lyk wat Juané Venter tans besig is om, net buite Potchefstroom op haar ouers se plaas, te bou.

Haar ouers bly die afgelope 7 jaar in Potchefstroom en het onlangs ook ‘n plaas sowat 20 kilometer buite Potchefstroom gekoop. Dit is juis daar waar sy haar projek tans aanpak. Dit het vir Venter, wat al in verskeie stede wêreldwyd gebly het, sin gemaak om hier naby Potch haar konsep lewe te gee. Venter het met die hulp van plaaslike kontrakteurs die huis in Maart begin bou en beoog om in Augustus die huis klaar te bou.

Juané Venter, ‘n argitek, het ‘n Air BnB OMGFund-kompetisie gewen, en sodoende kon sy ‘n $100 000 projek aanpak om ‘n eko-vriendelike huis uit natuurlike materiaal te bou.

“Argitektuur moet nie uitstaan nie, dit moet saamsmelt met die landskap en daarom wou ek hê die huis moet in die berg ingebou word. Ek wou ook net werk met natuurlike materiale soos grond en klip om te wys hoe mens kan bou met materiaal uit die omgewing op ’n volhoubare en holistiese manier,” vertel Venter. Die belangrikste element van die huis is die eko-vriendelike klipfondasie wat uit natuurlike materiaal uit die omgewing kom. Klipfondasies is ’n meer eko-vriendelike keuse as betonfondasies omdat die klippe van die omliggende area af kom. Daar is ook geen koolstofdioksiedvrystelling nie, terwyl sement ook een van die mees energie-intensiewe produkte is om te vervaardig.

Hier is sy saam met haar span wat haar droom in ‘n realiteit verander. Foto: Verskaf.

“Klipfondasies is so oud soos die mensdom en word al vir eeue gebruik. Daar is geboue wat honderde jare oud is wat met klipfondasies gebou is en vandag nog staan. Dit is ’n natuurlike en duursame materiaal wat uitstekende stabiliteit en lewensduur bied,” verduidelik Venter.

Die mure van die huis word uit rammed earth en klip gebou. Dit kom direk van Venter-hul se plaas af.

“Ek het so paar grondtoetse gedoen en die rooi grond op ons plaas is perfek vir rammed earth, dit het ’n goeie verhouding van klei, sand, slit en klippies om sterk rammed earth mure te bou,” vertel hierdie argitek. Die mure self is ook 450mm dik wat baie sterkte bied terwyl die kompaktering van die grond baie weerstand teen die weer verskaf.

‘n Lugfoto wys hoe die fondasies al begin vorder vir die eko-vriendelike huis.

“Ons gebruik kalk as ’n verbindingsmiddel in die mure. Kalk is ’n belangrike middel in die bou van grond huise,” voer Venter aan.

Op die dak sal daar ook gras groei, wat die natuurlike tema verder voer. Dit word ‘n lewende groen dak genoem.

“Ons sit grond op die dak sodat gras op die dak kan groei. Die dak moet diep genoeg wees sodat plante genoeg plek het om wortels te groei en dit moet waterdig wees sodat die dak nie lek nie. Die idee is dat dit moet lyk of die dak uit die landskap uit groei,” vertel sy.

Buiten die feit dat hierdie huis meer eko-vriendelik is, is daar ook ander byvoordele. Grondgeboue het uitsekende temperatuur regulerende kwaliteite, veral omdat die mure so dik is.

“Om met modder en klip te bou is nie noodwending goedkoper nie, want dit is baie arbeidsintensief. Die geld gaan dus na die arbeid toe en nie na materiale wat jy koop nie. Hierdie boumetodes is eintlik baie ou metodes en elke area in die wereld en ook Suid-Afrika het hul eie historiese manier van modder en klip huise bou so ek wil dit net op ’n moderne manier toepas en ook meer van die metode leer terwyl ek bou,” noem Venter.

Die AirBnB-kompetisie vereis ook dat wanneer Venter die huis klaar gebou het, dat sy dit op AirBnB as akkomodasie moet adverteer en uitverhuur.

“Die huis moet vir ’n jaar op die Airbnb platform wees. My hoofdoel is om meer te leer van die modder-en-klip-bouwerk en om te wys hoe mens historiese boumetodes kan gebruik in vandag se tyd.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button