Gebrek aan finansies kelder HTS Potchefstroom

Vir die eerste keer in geskiedenis het die tradisionele Classic Clash rugby en sokkerwedstryde tussen HTS Potchefstroom en Potchefstroom Boys High nie in Mei plaasgevind nie.

Vir die eerste keer in geskiedenis het die tradisionele Classic Clash rugby en sokkerwedstryde tussen HTS Potchefstroom en Potchefstroom Boys High nie in Mei plaasgevind nie.

Dit is ‘n groot hou in die maag vir HTS wat glo weens finansiële beperkinge nie rugbyspanne kon saamstel vanjaar om teen Boys High te staan te kom nie.

Volgens ‘n anonieme bron, is sake by HTS Potchefstroom al vir ‘n geruime tyd beroerd. Sedert die begin van 2023 het toestande net vererger.
Een van die kwelpunte is dat genoegsame skoolfonds nie ingevorder word nie en rekeninge sodoende agterstallig is.

HTS Potchefstroom sit tans met ‘n reeks geldelike probleme en sodoende kon hul nie aan vanjaar se Classic Clash teen Potch Boys High deelneem nie.

Die skool het in Mei vanjaar ook ‘n dringende omsendbrief aan ouers gestuur rakende die betaling van skoolfondse. Aangesien HTS Potchefstroom ‘n kwintiel-4 skool is, moet ouers skoolfondse betaal volgens die Suid-Afrikaanse Skolewet.

In die brief word daar gestaaf dat indien uitstaande skoolfondse nie betaal word nie, dat beheerliggaamposte sal wegval, dat koshuise kan sluit en dat die skool nie hulle diensverskaffers sal kan betaal nie.

Verder is daar ook die afgelope paar maande talle binnegevegte tussen voormalige lede van die beheerliggaam rakende hoe die skool se finansies, sekuriteit en administrasie gehanteer moet word. Daar word ook glo druk op die onderwysers geplaas en aantuigings gemaak wat in dieselfde asem hulle integriteit affekteer.

Volgens een van die onderwysers wat verkies om anoniem te bly, veroorsaak dit “groot negatiwiteit en ontstel dit die onderwysers.”
Verdere kwelpunte by die skool is ook die gebrek aan onderhoud weens die skool se benarde finansiële posisie.

Grassnyers en trekkers moet gediens word, terwyl die koshuise ook oorgeverf moet word, onder andere probleme.

‘n Verdere kwessie by die skool is ook die gebrek aan dissipline by sommige van die leerders wat glo hulle ouers bel om hulle tydens skoolure te haal en ook nie al hulle klasse bywoon nie.

Daar is kommer onder ouers oor die feit dat dit maande geneem het om ‘n LO-onderwyser aan te stel. Daar is op Vrydag, 12 Mei ‘n noodvergadering geroep om met die graad 8 ouers oor hul kinders se dalende akademiese prestasies te gesels en ‘n pad vorentoe te bespreek.

Die jaarlikse Classic Clash tussen HTS Potch en Potch Boys High is ook afgestel. Foto: Argief.

“Daar is geen logiese verduideliking oor hoekom die kinders misluk het nie maar met my kind is vir my gesê dat hy hulp nodig het met verstaan maar hy kan lees. Die leerders het eers 2 of 3 weke voor die kwartaal se einde ‘n LO-onderwyser gehad en is geassesseer op die werk wat hulle nie gedoen het nie,” noem een van die ouers.

HTS Potchefstroom en die nuutverkose beheerliggaam voorsitter, Mnr. Malefane Tshabalala, het by navraag versoek dat alle navrae rondom die skool se finansiële situasie na die Departement van Onderwys verwys word.

*Die Departement van Onderwys het na ‘n maand se navrae nog nie terugvoer aan die Herald verskaf nie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version