Local newsNewsNews

Tannie Kosie vier 100 jaar met ‘n stralende glimlag

Die op-en-wakker en altyd positiewe, tannie Kosie van der Merwe, het ‘n spesiale mylpaal in haar lewe behaal toe sy op Sondag, 14 Mei, 100 jaar oud geword het.

Die op-en-wakker en altyd positiewe, Kosie van der Merwe, het ‘n spesiale mylpaal in haar lewe behaal toe sy op Sondag, 14 Mei, 100 jaar oud geword het.

Tannie Kosie het behoorlik hierdie week gestraal van blydskap en het met haar kenmerkende glimlag groot waardering vir al die gelukwensings gehad wat na haar pad toe gekom het.

Kyk die video hier:

Op Woensdag, 17 Mei is daar ook by SAVF Huis Anna Viljoen ouetehuis, waar tannie Kosie ‘n inwoner is, ‘n spesiale verjaarsdagpartytjie gereël om hierdie eeu te vier.

“Dit is wonderlik dat ek op my ouderdom erkenning kry en dat ek nie net ‘n nommer is nie. Ek voel nie soos 100 nie, maar dit is ‘n groot seëning om dit te kan haal.”

Een van die geheime van tannie Kosie se gesonde lewe lê in haar positiwiteit sowel dat sy daarvan hou om besig te bly.

Tannie Kosie van der Merwe is tans ‘n inwoner by SAVF Huis Anna Viljoen in Bailliepark. Foto: Cornelia Hitge.

“Dit is werklik belangrik om gesond te eet en te kyk wat ‘n mens eet. Ek is lief vir ‘n soetigheid, maar net in matigheid,” glimlag sy.

Tannie Kosie wys werklik dat ouderdom maar net ‘n nommer is en nie bepaal wat ‘n mens behoort te doen nie. Sy het tot op 98 nog in haar eie woonstel gebly en self haar Mercedes diep in haar negentigs bestuur.

Verder het sy ook rolbal tot in haar negentigs by Potchefstroom Dorp Rolbalklub gespeel. Sy was ook ‘n kranige tennisspeler.

Tannie Kosie van der Merwe noem dat haar eetgewoontes en “besig bly” haar goed aan die gang hou.

Tannie Kosie het ook gelei in haar lewe en was vir lank bekend as die voorsitter van die Vroue Landbou Unie (VLU) in Potchefstroom. Sy was ook gereeld te sien by kerkbasaars waar sy in beheer van onder andere die poedingtafel was.

“Sy sit ‘n sprankel in ‘n mens se dag. Sy is werklik ‘n inspirasie vir my en ‘n sonskynpersoon,” vertel een van haar vriendinne, Agnes Keyter.

Tannie Kosie van der Merwe is op 100 nog sprankelend en ‘n inspirasie. Foto: Cornelia Hitge.

Tannie Kosie se man, Bobby, het al klompie jare terug gesterf en uit hulle huwelik het sy drie seuns, Riaan, Pierre en Vernon. Vernon is vanjaar oorlede.

“Ek kuier nog gereeld by my seuns en kom baie goed oor die weg met hulle. Hulle is meer soos goeie vriende. Mens sal nie dink ek is hulle ma nie!,” beaam sy.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button