Local newsNewsNews

Die Akker vier 30 jaar van koffie, kos en onvergeetlike kuiers

Hierdie alombekende koffiehuis en restaurant het al diep in Potchefstromers se harte ingekruip as die plek om te wees vir ‘n heerlike koppie koffie, ‘n stukkie koek of ‘n tradisionele ontbyt en smullekker middagetes.

Die Akker Koffiehuis vier vanjaar ‘n voortreflike mylpaal met hulle 30ste bestaansjaar in die hartjie van Potchefstroom op die Bult.

Hierdie alombekende koffiehuis en restaurant het al diep in Potchefstromers se harte ingekruip as die plek om te wees vir ‘n heerlike koppie koffie, ‘n stukkie koek of ‘n tradisionele ontbyt en smullekker middagetes.

Hier loop ‘n mens nie uit sonder ‘n glimlag, sowel as ‘n gelesde dors en ‘n versadigde maag nie.

“Kry jou by Die Akker!” is ‘n bekende gesegde in die Potchefstroomse gemeenskap en wys weer na die bekendheid van hierdie eg-Potch vesting waar ‘n warm gesellige atmosfeer altyd hooggety vier.

“30 jaar is nie net ‘n mylpaal vir Die Akker nie, maar vir Potchefstroom ook. Sover my kennis strek is ons die oudste koffiehuis en restaurant in Potch wat steeds op die aanvanklike perseel is ,” vertel Die Akker se eienaar, Bertus Els.

Die Akker Koffiehuis is in 1993 deur Hennie Beukes begin met die doel om ‘n gaping in die dorp te vul, aangesien daar nie ‘n koffiewinkel was nie.

“Hy het gesien dat daar ‘n behoefte vir Potch vir ‘n koffiehuis was. Dit was ‘n baie klein begin. Daar was net wafels, geroosterde toebroodjies en melkskommels verkoop,” vertel Els, wat al sedert 2009 in bestuur van Die Akker is. Die Akker spog ook dat hulle in besit van die eerste Espresso-koffiemasjien in Noordwes was. Die koffie-element is toe bygevoeg en sedertdien het Die Akker stelselmatig gegroei en uitgebrei.

“Die Akker het baie uitgebrei in terme van winkeluiteg en om die spasie prakties te maak. Die fokus op ons spyskaart het ook baie geskuif , weg van ‘n tradisionele koffiehuisspyskaart,” vertel Els.

Die Akker vier vanjaar 30 jaar van heerlike kos, koffie en puik diens aan Potchefstromers.
Geslligheid en ‘n warm atmosfeer is waarvoor Die Akker bekend is.

Volgens Els bied Die Akker juis volledige opsies vir ontbyt, middag en aandete – iets waarin kliënte aanklank vind.

“Ons is ‘n koffiehuis met ‘n uitgebreide spyskaart. Die hokkies skep ook ‘n baie gesellige atmosfeer en is uniek in Potch. Dit is een van ons karaktereienskappe en dit sal nooit verander nie. Dit gaan vir ons om ‘n warm atmosfeer te behou in moderne tye,” meen hy.

Die Akker se spyskaart een van sy groot treffers met items wat nie op enige ander plek bestel kan word nie.

“Baie studente keer terug na Die Akker en dan bestel hulle ‘n botterbroodjie of ‘n Wille-Dingo. Dit is iets nostalgies wat generasies al by ons eet. So behou ons die ou gunstelinge, maar verander ook aan ons spyskaart elke ses maande waar ons nuwe goed probeer. Jy moet altyd probeer verbeter. Jy hoef nie elke keer die wiel te herontwerp nie, jy moet hom net gepomp en aan die draai hou,” verduidelik Els verder.

Buiten die studente en families wat gereeld Die Akker besoek, is daar ook talle besigheidsmense en jong werkendes wat vergaderings reël en hierdie koffiehuis as hul nommer een bestemming beskou.

Die Akker kan net suksesvol wees as die ligging een is wat vir hulle gewaardeerde kliënte sekuriteit en rustigheid bied. Volgens Els speel die Cachet Park CID se betrokkenheid juis ‘n groot rol in die verbeterde sekuriteit op die Bult.

“Hier is gerieflike parkeerspasie en sedert die CID hier begin het, is daar ook nie soos in die verlede probleme met straatsmouse en karwagte nie,” meen hy.

Die Akker se sukses van die afgelope drie dekades kan gekenmerk word aan voortreflike diens, gehalte spyskaart-items sowel as ‘n gesellige welkome atmosfeer.

“Ons is baie dankbaar en geseënd om sterk te staan en te kan groei. Die oomblik as jy ophou probeer, hou jy om te groei. Ons waardeer die besighede en kleinte wat ons ondersteun. Sonder hulle ondersteuning sou ons dit nie kon maak nie. Kom stap die pad vir nog 30 jaar saam met ons,” sê Els.

*Hou Die Akker se Facebook en Instagramblad dop vir geskenkbewyse om die 30 jaar verjaarsdag van die Akker te vier, asook om op datum te bly van hul daaglikse spesiale aanbiedinge.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button