Local newsNewsNews

Valkoog: Trou is nie perdekoop nie

‘n Mens wonder of die huwelik tussen Potchefstroom en Ventersdorp as die J.B. Marks munisipaliteit juis hierdie gesegde nie ter harte geneem het nie.

Daar is ‘n ou gesegde wat lui dat trou nie perdekoop is nie. Dit wil sê dat trou nie maklik is of sommer ligtelik opgeneem moet word nie. Trou is ‘n ernstige saak.

‘n Mens wonder of die huwelik tussen Potchefstroom en Ventersdorp as die J.B. Marks munisipaliteit juis hierdie gesegde nie ter harte geneem het nie.

Na ongeveer ses jaar blyk dit dat die wittebroodtydperk kortstondig was. Die krake het jaarliks net vergroot en nou is die letsels daar vir almal om te sien in die gebrek aan dienslewering, verswakte inkomste invordering en so meer.

Die huweliksbootjie is dalk juis op die rotse veral nou dat die Munisipale Herafbakeningsraad (MHR) ‘n proses van stapel gestuur het rakende die herafbakening van munisipale grense, insluitend ‘n moontlike skeiding van die J.B. Marks munisipaliteit.

Opposisiepartye voer al telkemale aan dat ‘n spreekwoordelike egskeiding eintlik vir albei Potchefstroom (Tlokwe Munisipaliteit) en Ventersdorp voordelig sal wees.

Daar is ‘n hele paar kwessies wat opgeduik het na die samesmelting of “troue” as ‘n mens meer poëties daaroor wil besin.

Ongematigde uitgawes het verdubbel terwyl onreëlmatige uitgawes vanaf 2017 tot 2021 tot die hoogte ingeskiet  het.

Verder kelder die langafstandverhouding tussen Potch en Ventersdorp ook kommunikasie en doeltreffendheid.

Dienslewering trek aan die kortste ent van die tou – amper soos ‘n kind wat aandag nodig het, maar omdat die ouers stry, word daar nie na sy behoeftes omgesien nie.

Vir ‘n huwelik om te werk moet daar werk ingesit word van albei kante af – en op hierdie stadium het Potch nog net Ventersdorp se kwessies soos ‘n meulsteen om hul nek gedra.

Gesond is dit beslis nie.

Vir nou gaan die Munisipale Herafbakeningsraad na voorstelle van die publiek kyk voordat verdere besprekings en vergaderings gehou word rakende die pad vorentoe.

Op hierdie stadium lyk dit of ‘n egskeiding die enigste opsie is vir verbetering en ‘n voordeel vir hierdie paartjie se gemeenskap is.

Related Articles

 
Back to top button