Lojale skaaphond waak by sy baas tot die einde

‘n Getroue 9-jarige skaaphond, Rex, wou nie afskeid van sy bejaarde eienaar neem wat sy been en heup seergemaak het na ‘n val nie. Nou kort Rex 'n nuwe huis na sy eienaar se hartverskeurende dood.

‘n Getroue 9-jarige skaaphond, Rex, wou nie afskeid van sy bejaarde eienaar neem, wat sy been en heup seergemaak het, na ‘n val nie.

Danksy Potchefstroom Animal Welfare Society (PAWS) se hulp kon hulle, onder groot protes van Rex, hom van sy eienaar skei sodat ER24 ambulansdienste die man, net bekend as Oupa Pieterse, kon behandel en na die hospitaal vervoer.

Rex, die skaaphond, wat by sy Potchefstroomse eienaar gewaak het by sy siekbed. Rex is tans by die Border Collie Rescues-sentrum in Centurion. Foto: Border Collie Rescue SA/Facebook.

“Rex wou sy baas met alle mening beskerm. Hy het geblaf en was aggressief en toe hy weggevat is het hy getjank. Rex was sy baas se skaduwee en dit was baie moeilik om die twee te skei,” vertel Marlise Lessing, PAWS se hokbestuurder.

Oupa Pieterse het einde April in die hospitaal gesterf en daarna moes die familie die moeilike besluit neem om Rex te laat aanneem.

“Dit is vir ons almal ongelooflik hartseer toe ons die nuus hoor. Hy het in die twee weke wat hy by ons was sy baas vreeslik gemis,” vertel Lessing.

Rex is sedert Dinsdag, 9 Mei na die Border Collie Rescue-sentrum in Centurion, Gauteng geneem waar hy na omgesien word met die doel dat hy ‘n nuwe huis kry.

Oupa se kleinseun het aanvanklik vir PAWS (Potchefstroom Animal Welfare Society) geskakel om te kom help op 15 April vanjaar.

“Rex wou nie enigeiemand naby sy baas toelaat nie. Ons moes toe vir Rex na ‘n aparte kamer neem sodat die ambulansdienste vir oupa na die hospitaal kon vervoer. Sy vrou loop met ‘n loopraam en kon nie alleen na Rex omsien nie, so ons het toe vir Rex in een van ons hokke gehou waar hy veilig is,” noem Lessing.

In die tydperk wat Rex by Paws was is hy goed versorg en kon hy gemonitor word deur hul veearts, dr. Alex Chako.

“Noudat Rex in die Border Collie-netwerk is, is daar alreeds baie belangstelling in hom so ons glo dat hy binnekort ‘n huis en familie sal kry. Dit is vir ons belangrik om die gemeenskap te kan help en seker te maak dat alle honde veilig is veral in ‘n noodsituasie soos in die geval met Rex,” noem Lessing.

Vir meer inligting oor Rex en ander skaaphonde kan bordercollierescue.co.za besoek word.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version