Potch-babadogtertjie wen landswye kompetisie

Caitlyn Lubbe (1) van Potchefstroom is as die wenner van Beeld se 2022 Baba van die Jaar-kompetisie aangewys.

Klein Caitlyn Lubbe (1) van Potchefstroom het met haar pragtige gesiggie en stralende persoonlikheid sommer vroeg in haar lewe alreeds ‘n groot prestasie bereik.

Caitlyn is as Beeld se 2022 Baba van die Jaar aangewys by ‘n spogfunksie wat by Avianto in Muldersdrift op Saterdag, 22 April plaasgevind het. ‘n Paneel het die wenner gekies gebasseer op die foto’s en berig wat haar ouers ingestuur het.

Haar trotse ouers, Wian en Crystal, is ongelooflik bly en ook bietjie verbaas dat hul dogtertjie as die wenner gekies is.

Wian, Crystal en Caitlyn Lubbe saam met Beeld se redakteur, Barnard Beukman, by die Baba van die Jaar bekroningsfunksie in Muldersdrift.

“Ons het ‘n foto verlede jaar van Caitlyn ingestuur saam met ‘n kort beskrywing oor haar. Die publiek kon toe vir haar stem met ‘n aanlynskakel. Sy het Januarie 2022 se Baba van die Maand kategorie gewen en is toe een van die 12 finaliste,” noem Wian.

Vir die inskrywing moes daar meer besonderhede oor die oorsprong van Caitlyn se naam, haar geboorteplek, wat haar spesiaal maak, en die ouers se droom vir haar, gegee word.

Caitlyn is op 16 Januarie 2022 gebore in die Wilgers Life Hospitaal en is die Lubbe’s se eersteling. Haar naam is ‘n kombinasie van haar twee oumas se name.

Caitlyn Lubbe is as Beeld se 2022 Baba van die Jaar aangewys. Hier is sy saam met haar ouers, Wian en Crystal. Foto: Delene du Toit/Picture Cafe.

Sy is ‘n prematuurbaba wat op 35 weke gebore is. Haar ma was alreeds van 33 weke af in die hospitaal waar sy kontraksies beleef het. Na ‘n lang en emosionele reis in die swangerskap is Caitlyn as “’n geskenk van God” vir hierdie egpaar op ‘n onvergeetlike Sondagoggend gegee.

Dankie Here vir die mooiste dogter wat almal om haar se lewens op ń positiewe manier aanraak,” het Lubbe op Facebook gedeel op die dag wat sy dogter die kompetisie gewen het.

Wian is ‘n onderwyser en krieketafrigter by Potchefstroom Gimnasium en Crystal is ‘n apteker by Mediclinic Potchefstroom.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version