Local newsNewsNews

Oom Piet se pen rus nou

"Oom Piet de Jager wás wie hy wás. Ek sê dit, want Oom Piet het nie doekies, lappe of selfs komberse omgedraai nie. Nee, die wag voor sy mond het op verlof gegaan en in die bos verdwaal."

Kom ons draai nie doekies om nie: Oom Piet de Jager wás wie hy wás. Ek sê dit, want Oom Piet het nie doekies, lappe of selfs komberse omgedraai nie. Nee, die wag voor sy mond het op verlof gegaan en in die bos verdwaal.

Vir julle wat nie weet nie, kom ek vertel vlugtig wie Oom Piet was. Hy was ʼn welbekende sportskrywer in dié kontrei en sy naam was net soveel van ʼn instelling op die Potchefstroom Herald se blaaie as die ink waarmee dit gedruk was. Dit is by die einste Herald waar ek sowel as menigte ander joernaliste met Oom Piet te doen gekry het.

Jinne, het ons nie soms deurgeloop nie. Hy het nie geskroom om ʼn verbale opstopper te gee met daai kenmerkende blitse in sy oë nie. Jy moes fyntrap met Oom Piet, hoor.

Sy berigte was kort, kragtig, somtyds bitsig, altyd op die man af. Net soos hy. Maar, agter die ystervarkpenne was daar ’n sagte kant. Een aand op Olënpark speel die Luiperds teen een of ander prooi. Sunette Viljoen, Potch se spiesgooikampioen, stap langs die veld af en Oom Piet spring van sy plek in die persbank op, sy gesig die ene glimlag en hy swaai sy arms soos ʼn rondomtalie: “Hey, Champ! Hey Champ!” skree hy. Sy kyk op. Daar staan hy, arm uitgestrek, sy hand in ʼn vuis gebal, sy duim reguit op.

Die welbekende oud-Herald joernalis, Piet de Jager, was enig in sy soort.

Oom Piet het dikwels deur sy skryfwerk die gramskap van sportlui op die hals gehaal. Dalk was hy soms bietjie skoorsoekerig, dalk was hy net braaf. Dalk moet daar soms ʼn bietjie meer van Oom Piet in ons almal wees.

Later sou ek ʼn ander Oom Piet leer ken. Wanneer die gevaarwater netjiese poele in ons pense gevorm het, het ek die storieverteller ontdek. Sy grappe. Een aand het hy vir my ʼn mooi stuk advies gegee, maar dit bly tussen my en hom. Hy het saam met die mense vir wie hy lief was gaan koffie drink en hulle vertel van sy plaas. Hy het daarvan gehou om deel van ʼn gemeenskap te wees, hoewel hy soms sy gemeenskap bietjie befoeterd kon maak.

Dit was ʼn hartaanval. Donderdag, 20 April. Oom Piet de Jager wás wie hy wás, maar nou is hy nie meer nie.

Sy soort groei in eiesoortige grond, en dit is goed.

Want, jy onthou nie jou tannie van Germiston se stroopsoet silwergrys 1.6L Daewoo Nubira nie. Dáái een met die merke aan die drywerskant se deure waar die honde opgespring het. Die een wie se wieldoppe wat met tie backs vasgebind was en wat altyd alleen op die verste parkeringsarea voor die Spar gestaan het. Jy onthou jou pa se bedonderde neef van Pietersburg se gevlekte granaatrooi 1983 Ford Cortina XR6 wat gebrul en gelawaai het soos hy sy aankoms verkondig het. Dáái een met die 3L V6 wat so omgewingsvriendelik soos ʼn vulkaanuitbarstings was. Die een met die spot lights en die bufferplakker.

Jy onthou karakter. Jy onthou vir Oom Piet.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button