Slaggat-nagmerrie duur voort in Wynnestraat

Lindi Van Deventer, 'n gastehuiseienaar in Wynnestraat, noem dat die toestand van die pad ook haar besigheid beinvloed.

Bailliepark inwoners moet hare op hul tande hê om Wynnestraat te trotseer. Dìe straat is ‘n blywende kopseer vir almal in die omgewing, veral die motoriste wat nie bakkies of 4×4’s bestuur nie.

Anné van Onselen, DA raadslid van wyk 3, sê dat die slaggate verskeie kere, gerapporteer is, maar steeds is daar geen verandering nie.

Van Onselen sê dat daar in persoon by die waarnemende Munisipale Bestuurder, by die Bestuurder van Infrastruktuur wat met paaie werk, asook by die waarnemende Direkteur van Infrastruktuur rapportering gedoen is rakende die toestand van Wynnestraat. Verdere rapportering het plaasgevind deur fotos en/of videos van die toestand te stuur na hul selfone, asook per e-pos, maar steeds is niks gedoen om die motoriste se nood te verlig nie.

Lindi Van Deventer, eienaar van ‘n gastehuis in Wynnestraat, wys uit dat bakstene die swaar reën en verkeer weerstaan. Foto: Cornelia Hitge.

Altus Klingenberg, wat ‘n herstel-projek in Grimbeeckpark gehad het, het herstelwerk in Wynnestraat ook gedoen. Klingenberg sê dat die paaie weens ouderdom en gebrek aan verlangde instandhouding besig is om te verbrokkel, en dat die regmaak van individuele slaggate ‘n spreekwoordelike “prop in ‘n damwal druk” metode is waar die wal dan net weer elders begin kraak. Verder sê Klingenberg dat die munisipaliteit veronderstel is om die pad met die nodige toerusting reg te maak, maar dat dit nie gebeur nie as gevolg van voortslepende korrupsie, diefstal, en bedrog.

“Ek het gevra dat die pad behoorlik oorgeteer moet word,” stel Van Onselen verder.

Sy sê dat die munisipaliteit se antwoord was dat hulle nie teer het nie, en dat hulle nie die nodige toerusting het om die herstelwerk te doen nie. “Hoe is dit moontlik dat bogenoemde twee probleme al vir maande lank nie uitgesorteer word nie?,” vra Van Onselen.

Lindi van Deventer wys na ‘n stormwater drein wat verstop is. Foto: Cornelia Hitge

Lindi Van Deventer, wat Tierra Pequena B&B and Equestrian Estate besit, sê dat haar 2023 besprekings beslis afgeneem het, en dat baie gaste kla oor die toestand van Wynne-straat, “Veral die wat nie bakkies en SUV’s ry nie.” Van Deventer sê dat gaste op LekkeSlaap verwys na haar gastehuis met die kommentaar “Net jammer vir die slegte pad.”

Dit skrik potensiële gaste af en is sleg vir besigheid, meen Van Deventer. Gaste word nou Strydom-straat omgestuur, maar Van Deventer sê dat die pad ook uitmekaar begin val. “Ons gaan uit opsies begin hardloop,” sê die raadop gastehuis-eienaar.

Teen druktyd het die JB Marks munisipaliteit nog nie op navrae gereageer nie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version