VF Plus teken beswaar aan teen beplande mynbou op landbougrond

“Hierdie landbou-aktiwiteite is grootliks afhanklik van standhoudende onderaardse waterbronne. Enige mynbou-aktiwiteit in die gebied sal noodwendig lei tot die besoedeling van hierdie waterbronne.”

‘n Maatskappy het ‘n aansoek om prospekteerregte gebring met die oog op die myn van onder meer diamante, goud, silwer en koper op landbougrond oos van Ventersdorp in die omgewing van Palmietfontein.

Die Vryheidsfront Plus het as ‘n party van belang geregistreer om beswaar teen die prospektering aan te teken teen die beplande mynboubedrywighede van Kerosam Investments. Hierdie maatskappy het die aansoek deur die Departement van Minerale Hulbronne en Energiesake gedoen.

Die sperdatum om as ‘n belangeparty te registreer is vandag (14 April).

Die VF Plus noem in ‘n persverklaring dat hulle beswaar aanteken aangesien mynbou-aktiwiteit ondergrondse water kan besoedel.

“Hierdie landbou-aktiwiteite is grootliks afhanklik van standhoudende onderaardse waterbronne. Enige mynbou-aktiwiteit in die gebied sal noodwendig lei tot die besoedeling van hierdie waterbronne,” noem VF Plus raadslid, Marlene Steyn-Du Toit.

In hierdie area word mielies, verskeie groente en veevoer verbou en mynbou-aktiwiteite kan juis ‘n nadelige effek hierop inhou.

Volgens Steyn-Du Toit is daar ook ‘n skynbare gebrek aan deursigtigheid in die aansoekproses wat tot dusver gevolg is.

“ʼn Beperkte tyd vir die registrasie van belanghebbendes is onder meer toegelaat op die kennisgewing wat uitgereik is vir die voorgenome prospektering. Die VF Plus doen ʼn beroep op alle geraakte partye om as belanghebbendes te registreer,” noem sy.

Verder stel sy ook dat die JB Marks munisipaliteit eers van gister af van hierdie prospekterings aansoek (13 April) bewus is nadat die VF Plus dit onder hul aandag gebring het.

“Die VF Plus sal koördineer met landbou-organisasies en ander geraakte partye om te verseker dat die landbousektor en plaaslike gemeenskap se belange beskerm word.”

Geintereseerde en geafekteerde partye sal ook in kennis gestel word van ‘n kommentaarperiode vir die konsep basiese assesseringsverslag.

Belanghebbendes kan as geinteresseerde en geaffekteerde partye stem deur ‘n e-pos te stuur aan me. Kananelo Kotjane by kanie@thevhasustainableservices.co.za voor of op 14 April 2023. Kotjane kan ook gekontak word op 076 378 4884.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version