Kunstenaars genooi om aan opwindende Salon-uitstalling deel te neem

Die Franse woord “salon” verwys na kunsuitstallings van verskeie kunstenaars wat in verskeie mediums werk.

Die Potchefstroomse Kunsvereniging beplan ‘n Salon-uitstalling en nooi kunstenaars van Potchefstroom en omgewing om hulle mees onlangse kunswerke vir dié geleentheid in te skryf. Die uitstalling sal op 28 Februarie by die Snowflake-gebou open en duur tot 25 Maart. Tydens dié geleentheid kan die kunstenaars hulle werke te koop aanbied.

Die Snowflake-gebou is die ideale ruimte vir kunsuitstallings. Hier is die plaaslike beeldhouer, Sandro Trapani by een van sy beeldhouwerke wat vroeër by die Snowflake-gebou uitgestal was. Foto: Venessa van der Westhuizen.

Die Franse woord “salon” verwys na kunsuitstallings van verskeie kunstenaars wat in verskeie mediums werk. Die eerste Salon-uitstalling was die Paris Salon genoem en het in 1673 in Parys, Frankryk plaasgevind toe kunstenaars van die Académie royale de peinture et de sculpture saam aan ‘n uitstalling deelgeneem het. Kunstuitstallings van dié aard is later in 1725 in ‘n kamer van die Louvre gehou wat die Salon Carré genoem was. Die woord “salon” is later as die algemene term gebruik vir enige groot kunsuitstalling van verskeie kunsvorme waaraan verskeie kunstenaars deelneem.

Gaste tydens die openingsgeleentheid van ‘n kunsuitstalling by die Snowflake-gebou.

Diegene wat aan die Potchefstroom Salon wil deelneem, moet ‘n epos stuur aan potchkuns@gmail.com. Gebruik Salon as trefwoord in die onderwerp (subject) van die epos en vra dat inligting rondom die uitstalling aangestuur word.

Kunstenaars kan vier werke vir die uitstalling inskryf. Die inhandigingsdatum is Maandag, 27 Februarie vanaf 7:15 – 9:00 by die Snowflake-gebou. ‘n Inskrywingsfooi word gehef en kunswerke sal gekeur word.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version