Local newsNewsNews

Japan is Ferdies se top matrikulant se voorland

“Ek het vir my toelatingseksamens heeltemal in Japannees geleer, lees boeke in Japannees en het al my elektroniese toestelle op Japannees gestel om my so veel as moontlik met die taal te omring en te kan leer.”

Dit is nie elke dag dat ‘n mens ‘n Potchefstroomse matrikulant ontmoet wat Japannees kan lees en praat nie, maar Henco Verwey van Hoërskool Ferdinand Postma het met 7 onderskeidings teen ‘n gemiddeld van 93 persent bewys dat hy enig in sy soort is.

Henco gaan vanjaar in Japan sy rekenaaringenieurswese-studies in Osaka by Osaka-universiteit begin.

Hy het ook sy Japannese taalbevoegdheidstoets op die hoogste vlak (N1) met 99 persent (178/180) in Desember 2021 geslaag.

Henco Verwey het sy Japannese taalbevoegheidstoets ook met 99% geslaag.

Henco het 99% vir wiskunde, 96% vir fisiese wetenskap, 96% vir inligtingstegnologie, 94% vir rekeningkunde, 90 vir lewensoriëntering, 87% vir Engels eerste addisionele taal en 86% vir Afrikaans huistaal.]

Hy vertel dat die taal eerste gekom het en daarna het hy begin navorsing doen oor maniere om Japan toe te gaan.

“Ek het die MEXT (Ministry of Education, Culture, Sports, Science, and Technology) beurs uitgevind. Die kompetisie is baie erg, veral op die voorgraadse vlak, maar ek het geglo as ek elke dag werk sal ek ‘n kans staan.  Ek wou nog altyd iets interessant en anders doen, maar wat my nogsteeds sal bevoordeel na skool, en Japan het vir my perfek gelyk. Genoeg van ‘n uitdaging, maar bied ook baie geleenthede. Deur die proses het ek mense daar leer ken en sodoende meer van die land uitgevind,” verduidelik Henco.

Die andersheid van die skryfstelsels in Japannees het ook sy aandag getrek en hy het toe besluit na tersiêre studies in Japan sy hoofmotivering sou wees.

“Ek het vir my toelatingseksamens heeltemal in Japannees geleer, lees boeke in Japannees en het al my elektroniese toestelle op Japannees gestel om my so veel as moontlik met die taal te omring en te kan leer.”

Nog ‘n aspek wat Henco in gedagte moes hou is dat die aansoekproses vir universiteitstoelating in Japan ontsettend streng is.

“Die aansoekproses van die beurs is omtrent ‘n hele jaar lank en sluit toelatingseksamens in Fisika, Chemie, Wiskunde, Japanees en Engels in. Omdat dit meer werk is as wat hier gedoen word, het ek geglo dat ek nie sleg mag doen hier nie, ander sal ek geen kans staan nie. Dit het my gemotiveer om my beste te gee vir elke toets,” verduidelik hierdie hardwerkende Potchefstromer.

Balans was steeds baie belangrik vir Henco om sy beste te bereik. In sy vrye tyd lees hy ook Japannese storieboeke en het ‘n Japannese vertaling van die Harry Potter-reeks.

“Ek het elke dag vir my tyd gegee om te rus en na te dink oor die dag. Ek het ook gereeld geoefen.  Die jaar het ek ook my oefening meer ernstig begin vat en geniet dit. Ek is baie trots op myself oor my punte, maar party dae kan ek nog steeds nie glo wat ek als bereik het nie. Ek glo nou dat harde werk beloon word.”

Henco vertel dat sy ouers, Willie en Ronel, hom altyd ondersteun het al het hulle nie altyd met sy planne saamgestem nie.

“Hulle het vir my genoeg vryheid gegee om self te kan besluit dat ek hard wil werk.”

Henco noem dat hy een frase in Japannees geniet wat hom motiveer, wat kortweg as ‘n eenkeer in ‘n leeftyd oomblik beteken.

“一期一会(ichi-go-ichi-e), kom oorspronklik van tee seremonies af en beteken dat jy ‘n sekere geleentheid net een keer gaan kry. Partykeer wag ‘n mens vir ‘n spesifieke geleentheid en die frase herinner my aan al die ander geleenthede wat in die tussentyd verbygaan. Dit motiveer my om die meeste van geleenthede te probeer maak.”

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button