Local newsNewsNews

Water daal weer by Vyfhoek-reservoir – inwoners gevra om water spaarsamig te gebruik

Die watervlakke het geleidelik gedaal tot 22% waarop dit Dinsdagmiddag, 17 Januarie om 15:00 te staan gekom het.

Die waterkrisis wat gedeeltes van Potchefstroom verlede jaar geknou het, blyk om weer kop uit te steek met die dat watervlakke in die Vyfhoek-reservoir weer gedaal het.

Een van die redes hiervoor is die feit dat die pompe van die reservoir tydens beurtkrag nie genoeg water kan pomp nie, aangesien kragopwekkerkapasiteit ‘n rol speel. Vlak 6 beurtkrag wat die afgelope week ingestel is, het sodoende dit ook ‘n groot knou toegedien.

Gedeeltes wat geaffekteer kan word sluit in Bailliepark, Vanderhoffpark, Vyfhoek, Dagbreek, Tuscany Ridge en Mooivalleipark.

Die Vyfhoek reservoir wat talle buurte se water verskaf. Foto: Wouter Pienaar

“Ten spyte van verskeie skrywes met navrae, voorstelle en waarsuwings, was daar ooglopend nie enige tasbare reaksie van die Munisipale Bestuur se kant af ten einde ‘n herhaling van verlede jaar se waterkrisis te voorkom nie,” noem VF Plus raadslid, Ian de Villiers.

De Villiers noem dat daar voorstelle gegee is om die verouderde pype te vervang wat vanaf die suiweringswerke na Vyfhoek reservoir oploop.

Die watervlakke het geleidelik gedaal tot 22% waarop dit Dinsdagmiddag, 17 Januarie om 15:00 te staan gekom het. Een inwoner van Dagbreek, het ook genoem dat hy nie water het nie.

Daar word versoek dat inwoners spaarsamig met water te werk sal gaan totdat die watervlakke weer styg.

Die Bult, Oewersig, Heilige Akker, Kannonierspark, Miederpark en die Suiddorp word nié deur die Vyfhoek reservoir van water voorsien nie en sal sodoende nie geaffekteer word nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button