Die Huis met die Kruis leef voort

Die Huis metdie Kruis het 'n spesiale geskiedenis.

Vir 56 jaar het ek in Ottostraat 21 langs die SPAR gebly, meer bekend as die huis met die kruis. Ek het in 1995 by ‘n vrouekamp ‘n visioen van ‘n kruis gesien.

In dieselfde jaar het ek uit ‘n 12 meter hoë bloekomboom ‘n kruis presies soos in my visioen gemaak. Die boom was jare vantevore deur weerlig doodgeslaan en was dus lig genoeg. Anton Nebe het die boom en dorings wat gebruik is vir die kroon van die familieplaas gebring. Ek het die dorings behandel, geverf en vasgebind met liefde, sweet en genade.

Elmé Dreyer en kleinseun Ryan Dreyer in die huis met die kruis in deLand. Foto: Verskaf

In 2017, na 22 jaar, het die kruis egter omgeval en die era van vreugde het ‘n mooi maar seer herinnering geword. Net 2 dae nadat die kruis geval het is die elektrisiteit houer aan die voete van die 15 meter hoë engel met die basuin en ster op my huis se dak deur weerlig geslaan. Ek het reg langs die engel se paal gestaan toe die weerlig tref. Die engel se bedrading was totaal vernietig maar ek was ongeskonde. Daar het ek besef dat ek slegs ‘n instrument in God se hand is om Sy boodskap aan alle klein mensies te bring. Dieselfde Jesus van Kersfeeswat gebore is onder die ster in Bethlehem is ook die Redder aan die kruis wat vir ewig leef in my hart en in my lewe.

Die gedagte het my gemotiveer om met die hulp van my kleinseun Ryan Dreyer dele van die oorspronklike Paas- en Kerskruis te gebruik om in 2018 ‘n nuwe kruis teen my huis te bou. Daardie kruis is nou totaal oorgedoen deur die Bekker
gesin wat nou in die huis woon. Hulle gaan gedurende Kers- en Paasfees die kruis laat brand vir gesinne om met hulle kleingoed die wonder en mooi te beleef.

Jaco Bekker is alom bekend as Direkteur van Camp David vir manne en dit is goed vir my siel om te weet dat my huis met die kruis steeds die goeie nuus van Jesus verkondig. Nou nie slegs in Potchefstroom nie maar nou ook land- en wêreldwyd deur Jaco en Camp David. Sy vrou Monique is ‘n verpleegster en vroedvrou wat spesialiseer in tuisgeboortes. My hart is vol vreugde om te weet dat nuwe lewe steeds voortvloei uit die huis met die kruis.

Ek het nou finaal afgetree in deLand na 50 jaar van onderwys, so ouderdom 85 is hierdie my jubilee jaar. My selfde kleinseun, Ryan Dreyer, is nou ‘n wiskunde onderwyser in Kuwait en het my verras met ‘n kuier en ‘n kruis wat hy gemaak
het vir my nuwe huis. Volgens hom kan sy ouma immers nie in ‘n huis sonder ‘n kruis woon nie! My huis is nommer 17 deLand wat vir my baie betekenisvol is want daar is net 1 God en op die 7e dag het Hy gerus.

Nou rus ek ook in my nuwe huis met ‘n nuwe kruis.

Geseënde Kersfees!

Exit mobile version