Local newsNewsNews

Gebarste pyp veroorsaak waterkrisis

Inwoners wat toegang tot boorgatwater en swembadwater het, het ook alreeds hande bymekaar gesit om met die waterkort te help.

Potchefstromers wat van die Vyfhoek reservoir vir water afhanklik is, sukkel nog steeds vanoggend met min of geen water.

Inwoners in hierdie geaffekteerde areas (Bailliepark, Van der Hoffpark, Dagbreek, De Land, Tuscany Ridge, Mooivalleipark en Grimbeekpark) wat toegang tot boorgatwater en swembadwater het, het ook alreeds hande bymekaar gesit om met die waterkort te help.

Die Vyfhoek reservoir wat talle buurte se water verskaf. Foto: Wouter Pienaar

Die JB Marks Munisipaliteit se infrastruktuurspan is tans besig om aan die probleem aandag te gee.

Die Munisipaliteit het gisteraand omstreeks 21:00 bevestig dat ‘n gebarste pyp op die waterlyn van die Lakeside Wateraanleg, die hoofrede vir die watertekort is.

“Munisipale beamptes doen tans herstelwerk. Inwoners word gevra om water spaarsamig te gebruik,” het JB Marks Munisipaliteit se woordvoerder, Jeanette Tshite genoem.

Volgens Anné van Onselen, DA wyksraadslid in wyk 3, het skole ‘n krisis om hulle toilette te spoel. Sy vra inwoners wat kan, om water in houers by omliggende skole in die wyk af te laai. Sommige inwoners het ook ervaar dat hul water bruin voorkom, wat die drinkbaarheid daarvan beinvloed.

“Die waterspan is reeds van vroeg af besig om weer die lyn oppad na die reservoir toe te stap. Ek is deurentyd in kontak met die waarnemende Direkteur, Bestuurder en Toesighouer by Infrastruktuur asook met Waterwerke se personeel. Die Munisipaliteit werk daaraan om dringend hierdie krisis opgelos te kry,” het sy op ‘n Whatsapp groep genoem.

Van Onselen stel ook voor dat inwoners eerder nie hulle tuin moet natspuit nie en hulle geyser moet afsit todat die waterkrisis uitgesorteer word.

Dit is omrede die geyser se element kan uitbrand as daar nie voldoende water die geyser ingetap kan word, as al die warm water opgebruik is nie.

 

Related Articles

Back to top button