NewsNews

Hoender-abattoir kom vereistes na

Volgens die besturende direkteur van Crest Choice Chicken, mnr. Bill Liebenberg, het die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling bepaal dat hierdie storting nie omgewingskade veroorsaak het nie.

Die plaaslike hoender-abattoir, Crest Choice Chicken, is vandeesweek weer deur die Noordwes Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling besoek na die beweerde storting van hoenderafval in April vanjaar.
Volgens die besturende direkteur van Crest Choice Chicken, mnr. Bill Liebenberg, het dié departement bepaal dat hierdie storting nie omgewingskade veroorsaak het nie, aangesien die afval volgens wet as nie-skadelike afval geklassifiseer is en boonop onder die grond begrawe is.

“Die inspekteurs was hierdie week weer hier en hulle kon nie fout vind waar die afval gestort is nie.
“Daar is ook ‘n eksterne oudit uitgevoer om na verskeie aspekte in die besigheid te kyk. Die terugvoer wat ons gekry het was ook positief,” noem Liebenberg.

Daar het verlede week ‘n herrie ontstaan nadat die aktualiteitsprogram, Carte Blanche, verslag gelewer het oor beweerde storting van hoenderafval en hoe dit skade aan die omgewing aanrig.
Liebenberg het toe op navraag, aan die Herald verduidelik dat daar ‘n rede vir die storting in April was. Dit is weens die feit dat beurtkrag produksie gekniehalter het en daar geen ander manier was om van die hoenderafval ontslae te raak nie.
Dit was volgens hom ook ‘n eenmalige gebeurtenis en dat korrektiewe stappe wel geneem is om in die toekoms weer so ‘n voorval te verhoed.
“Die tweede kookpot wat ontplof het, die verwerkingsmasjien en ‘n swak kragopwekker wat nie genoeg krag kon produseer om die aanleg aan te dryf nie, was die rede vir die nie-nakoming,” noem die waarnemende woordvoerder van die Noordwes Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling, Tsholofelo Dintwe.
Dié departement het ook bevestig dat die Veeartsenydienste-afdeling die fasiliteit ondersoek het en bevind het dat Crest Choice Chicken nie sekere maatreëls ten opsigte van die Wet op Vleisveiligheid nakom nie.
Dié departement het vir Crest Choice Chicken geleentheid gegee om sake vanaf 18 Julie tot 5 Augustus reg te stel.

Mnr. Bill Liebenberg, besturende direkteur van Crest Choice Chicken, noem dat die Noordwes Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling gereeld sy perseel besoek en dat hy die nodige aanpassings wat aanbeveel is, gemaak het. Foto: Wouter Pienaar

Liebenberg het vir die Herald dokumentasie gewys dat daar wel korrek opgetree is ten opsigte van die maatreëls wat dié departement vereis het.
Hy het ook klem gelê op die feit dat gesondheid en veiligheidsmaatreëls nog altyd streng nagekom is. Werknemers weet ook wat die proses is as daar enige griewe in die werkplek is.
Die Herald het die fasiliteit besoek en gesien dat die ablusiegeriewe sowel as ander afdelings in die fasiliteit toepaslik in stand gehou word. Dié departement het verlede week genoem dat daar vereis was dat die omset van 30 000 hoenders per dag na 15 000 verminder word, totdat die verwerkingsaanleg weer die volumes kan hanteer.
“Die Veeartsenykunde Openbare Gesondheidsbeampte sal voortgaan om bedrywighede by die abattoir te monitor en seker te maak dat alle regstellende aksie uitgevoer word,” voer Dintwe aan.
Liebenberg het genoem dat sy werkers ook ‘n petisie geteken het dat die verwerkingsaanleg weer op 30 000 hoenders (volle kapasiteit) kan funksioneer, aangesien hulle nie hul werk wil verloor nie.
“Dit is die werkers se inkomste en hulle gesinne maak staat daarop. 93% van die werkers het geteken dat hulle weer op volle kapasiteit wil voortgaan.”

Related Articles

Back to top button