NewsNews

JOOL is terug in Potch hierdie naweek

‘n Verskeidenheid kunstenaars sal op 28 en 29 Julie op die Joolplaas optree, terwyl die vlotte op 30 Julie deur die dorp sal beweeg.

Vir die eerste keer in die geskiedenis gaan die NWU se JOOL (Jou Onbaatsugtige Opoffering vir Liefdadigheid, in die winter plaasvind hierdie komende naweek, 28 tot 30 Julie.
Die koue temperature mag dalk ongewoon wees, maar na twee jaar klop almal se harte warm om weer hulle gunstelingkunstenaars en die kreatiewe vlotparade te kan beleef. ‘n Verskeidenheid kunstenaars sal op 28 en 29 Julie op die Joolplaas optree, terwyl die vlotte op 30 Julie deur die dorp sal beweeg.
“Ons doel met Jool bly dieselfde – om ‘n verskil te maak in die gemeenskap. Ons is steeds studentgedrewe,” sê Ivan Beck, die NWU Studenteraad Fondsinsameling en Projekte Beampte.
Dit is vanjaar die eerste Winterjool ooit. Hierdie is as gevolg van streng Covid-regulasies wat vroeër toegepas is, asook die eerste semester wat later in die jaar begin het. Jool moes vanjaar vir die eerste keer geregistreer word en die Joolkomitee was onder baie druk in terme van dokumentasie.
Dieselfde gewilde sangers, asook nuwe kunstenaars, kan by Jool verwag word. Dit sluit Francois van Coke, Karen Zoid, Heuwels Fantasties, Early B, Van Pletzen, Refentse, asook ander bekende kunstenaars in wat op die NWU se Joolplaas sal optree.


Al die koshuise van die NWU sal oudergewoonte kans kry om blikkies te skud tydens die vlotte-parade om geld vir liefdadigheid in te samel. Die publiek word uitgenooi om die studente daarmee te ondersteun.

Die roete van die Joolvlotte wat Saterdag, 30 Julie vanaf die NWU Joolplaas tot by Cachet Park vanaf 08:00 – 10:00 sal beweeg.

Die roete van die vlotte is ook aangepas:
Dit begin Saterdagoggend om 08:00 by die Joolplaas en draai in Hennie Binglestraat in. Die vlotte beweeg dan deur Govan Mbeki, Dr James Moroka, Walter Sisulu, Chief Albert Lithuli, Steve Biko, Esselen en uiteindelik Hoffmanstraat wanneer die vlotte omstreeks 10:00 in Cachet Park geparkeer word. Die vlotte is dan van 10:00 tot 13:00 in Cachet Park vir die publiek om daarna te kyk, waarna dit weer na die Joolplaas sal terugbeweeg.

“Jool is ‘n versameling van baie mense en organisasies wat dit moontlik maak,” sê Ivan Beck verder. Hy werk saam met dr. Corrie Rheeder, Direkteur van Studentelewe aan die NWU en die NWU tegniese dienste en sy hele Joolkomitee, wat ‘n span van sowat 60 studente insluit. Alle winste wat uit die Jool-byeenkoms gemaak word gaan aan die SJGD-organisasie (Studente Jool Gemeenskapsdiens), waarvandaan die geld aan verskeie liefdadigheidsorganisasies versprei sal word.

Daar sal ook punte wees waar studente van ‘n busdiens gebruik kan maak om na die Joolplaas vervoer te word. Busse sal elke 30 minute vanaf die Weskampus, Hombre Manskoshuis se hek, Potchefstroom Gimnasium en die Bult vertrek.

Die kaartjies vir Jool is tans 50% uitverkoop – alle studente en jongmense bo 18 word aangemoedig om kaartjies op https://www.howler.co.za/jool28 te koop teen R175 vir een aand of R320 vir albei aande om toegang te hê tot die kunstenaars se optredes.

Related Articles

Back to top button