NewsNews

Burgemeester en speaker oorleef mosie van wantroue danksy EFF

Vyf lede van die EFF het besluit om nie te stem nie, wat veroorsaak het dat die ANC met 33 stemme teenoor 29 steeds in beheer van die munisipaliteit bly.

In vandag (Dinsdag, 26 Julie) se raadsvergadering van die JB Marks Munisipaliteit het opposisie partye  se mosie van wantroue teen die uitvoerende burgemeester en speaker nie geslaag nie.

Vyf lede van die EFF het besluit om nie te stem nie, wat veroorsaak het dat die ANC met 33 stemme teenoor 29 steeds in beheer van die munisipaliteit bly.

Die uitvoerende burgemeester, Gaba Ka Qhene, en speaker, Moithoesi Dassie, is beide politieke ampte wat met die demokratiese meerderheid van die raad gekies of verwyder kan word.

Een van die redes hoekom hierdie mosie juis gedien het spruit uit gebrekkige dienslewering en infrastruktuur in die Munisipaliteit.

“Al die opposisie partye het die mosie van wantroue ondersteun. Al die opposisie het hulle hande opgesteek, maar die speaker het die vergadering eers tot stilstand geroep. Na ‘n lang gesprek het die die mosie gedien waarna ‘n gedeelte van die EFF lede besluit het om buite stemming te bly en deur die proses vir die ANC ‘n meerderheid te gee om aan bewind te bly,” noem DA koukusleier in JB Marks, Hans-Jurie Moolman.

Volgens Vryheidsfront Plus raadslid in die JB Marks Munisipaliteit, Marlene Steyn-Du Toit, hou die samespanning tussen die ANC en die EFF ʼn bedreiging vir dienslewering in JB Marks in en dien suiwer die belange van ʼn handvol plaaslike politici.

“Die welstand van die gemeenskappe in Potchefstroom en Ventersdorp speel geen rol in hul besluitneming nie,” meen Steyn-Du Toit.

Verder was daar ook in terme van wetgewing ‘n hele paar onreëlmatighede.

“Die VF Plus het in terme van wetgewing en gesag daarop gewys dat ʼn waarnemende speaker deur die raad aangewys moet word vir die hantering van die mosie. Dassie het egter voortgegaan en onreëlmatig self ʼn ANC-raadslid as waarnemende speaker aangewys en ook ingemeng met die demokratiese proses rondom die mosie,” staaf Steyn-Du Toit verder.

Volgens Moolman is die wiel besig om stadig te draai en dat daar in die volgende vyf jaar nog mosies ingedien kan word.

“Ons is bly dat demokrasie getoets word en dat demokratiese krag besig is om druk te sit op die ANC om te begin fokus op die kiesers en nie op politieke speletjies nie. Dit is deel van ons demokratiese verantwoordbare proses dat persone getoets word. Ek hoop dat opposisie partye in die toekoms almal saam sal staan sodat ons ‘n alternatiewe regering in die munisipaliteit in plek sit,” het Moolman verder gesê.

Related Articles

Back to top button