NewsNews

Verskeie redes waarom stadsraad se begroting onbefonds is

Daar word R2 miljoen vir ‘n oorhoofse projektor vir die raad begroot, terwyl daar slegs R5 miljoen vir paaie en stormwater-infrastruktuur begroot is.

In die JB Marks Munisipaliteit se onbefondsde begroting vir 2022/23 wat tydens die begrotingsrede op 30 Junie vanjaar goedgekeur is, word daar R2 miljoen vir ‘n oorhoofse projektor vir die raad begroot, terwyl daar slegs R5 miljoen vir paaie en stormwater-infrastruktuur begroot is.

Hierdie is maar net een van die kommerwekkende besluite wat die munisipaliteit in die begroting ten opsigte van kapitaaluitgawes uiteengesit het.

Dit vorm deel van ‘n groter prentjie waar die Raad mislei is, aangesien daar twee verskillende briewe van die Noordwes Provinsiale Tesourie tydens die begrotingsrede aan die Raad voorgehou is. Die een brief het genoem dat die begroting wel befonds is, terwyl die ander brief presies die teenoorgestelde gestaaf het.

DA koukusleier in JB Marks, Hans Jurie Moolman, het aan die Herald bevestig dat die begroting as onbefonds en onvolhoubaar deur die Noordwes Provinsiale Tesourie verklaar is.

Luidens ‘n verslag van dié Tesourie, is die beoogde begroting “as onbefonds en onvolhoubaar verklaar.” Die hoofredes hiervoor was dat daar ‘n R10.8 miljoen tekort in die begroting was. Die Tesourie se aanbevelings was dat die munisipaliteit kapitaaluitgawes moet verminder en ook met ‘n begrotingsplan vorendag moet kom wat voor die Raad moet dien.

Ander aanbevelings is om kostebesparings aan te wend om kontantvloei en uitgawes beter te bestuur. Volgens die munisipaliteit se begrotingsverslag word R306 862 700 begroot vir kapitaaluitgawes in die 2022/23 finansiële jaar. ‘n Gedeelte van die geld, R197 miljoen, is afkomstig van nasionale toekennings (grants) met die res wat uit die munisipaliteit se reserwes afkomstig sal wees.

Van hierdie uitgawes sluit die volgende in:

• R2 miljoen vir ‘n nuwe projektor vir die Dan Tloome Raadsaal
• R7 miljoen vir die opgradering van die Ventersdorp Raadsaal en hoofgebou (terwyl dit tans nie in gebruik is nie)
• R1 miljoen vir die burgemeester se voertuig
• R1 500 miljoen altesaam vir meubels en stoele vir die speaker en burgemeester se kantore
• R14,7 miljoen vir die Ikageng Industriële Park.

Die operasionele inkomste vir die 2022/23 begrotingsjaar is R2.1 biljoen met ‘n operasionele uitgawe wat op R2.3 biljoen uitloop. Dit is ‘n tekort van R272 miljoen.

Volgens die munisipaliteit se verslag verteenwoordig hierdie tekort nie die realistiese syfer nie, aangesien daar in ag geneem moet word dat daar voorsiening vir slegte skuld en waardevermindering op bates gemaak word. Volgens die munisipaliteit word daar geld gegenereer uit operasionele aktiwiteite wat ‘n surplus van R153 miljoen sal wys. Dit sluit in erfbelasting en ander basiese dienste wat gelewer word.

‘n Grafiese voorstelling van die kapitaaluitgawes wat in die JB Marks Munisipaliteit se 2022/23 begrotingsverslag gestaaf is. Grafiek: Wouter Pienaar

Volgens die VF+ se raadslid in die JB Marks Munisipaliteit, Thys Rossouw, is dit nie die ware som nie, aangesien die inkomste wat genereer word, oorgeskat word.
Hy meen dat die ware som eintlik ‘n tekort van R25 miljoen moet voorstel.
Dit is wanneer die grootmaat aankope se uitgawes (R82 miljoen) van die geskatte surplus (R57 miljoen) afgetrek word.

‘n Kommerwekkende punt is dat die begroting wel reeds volgens die Municipal Finance Management Act (MFMA), artikel 24 teen 31 Mei voor die raad vir oorweging moes dien. Dit het nie gebeur nie.
Volgens Rossouw is daar verskeie kwessies rondom die begroting. Dit sluit in die feit dat raadslede minder as 24 uur gehad het om op die begroting voor te berei.

“Die eerste fundamentele probleem met die begroting is dat die begroting buite die finansiële stelsel opgestel was. Dit het ook talle mSCOA datastring onakkuraathede gehad en nie alle begrotingstabelle is gevul nie,” noem hy.
Verder noem hy dat dit ook nie die norm is dat kontrakteursdienste 12.9% van die begroting kan uitmaak nie. Dit moet eerder tussen 2-5% wees.
Volgens Rossouw maak die inkomste projeksies ook nie finansieel sin nie, met die provinsiale tesourie wat in hulle verslag aan die munisipaliteit daarop klem gelê het.
*Die bedryfsinkomste sal na verwagting met 10,2% groei, maar die gemiddelde toename van 6,1% is in die vorige twee jaar behaal.
* Inkomste uit eiendomsbelasting het met 8.6% toegeneem vanaf die vorige jaar. Die werklike verhoging behoort eintlik 5,5% te wees.
* Elektrisiteitsinkomste geprojekteer op 8.7%, alhoewel die munisipaliteit gesê het dit styg net met 7.47%.
* Vullisverwydering word geprojekteer op R50 miljoen, al is slegs R29 miljoen in vorige jare behaal.
* Beleggingsinkomste word op R20 miljoen geraam en gebaseer op werklike prestasie, behoort dit net R11 miljoen te wees.
* Rente op debiteure het van R16 miljoen tot R37 miljoen gestyg.
* Boetes is met R92.1 miljoen oorskat.
Volgens die munisipaliteit se begrotingsverslag is die begroting opgestel en geïmplementeer om op die armes, ontwikkeling en volhoubaarheid te fokus, veral in ‘n post Covid-19 era waar daar van die ekonomiese impak herstel word.
Een rede hiervoor is om die uitdagings aan te spreek wat inwoners onder die broodlyn daagliks ervaar. Die sluit in dat arm gemeenskappe 6 kiloliter water, 80 kilowatt elektrisiteit en vullisverwydering verniet sal kry.
DA raadslid, Chris Hattingh, meen ook dat ‘n onderbefondsde begroting ‘n aanduiding is dat die finansies nie op die regte plek soos opknapping en instandhouding van infrastruktuur fokus nie.
“Noodsaaklike dienste in die gemeenskap soos water en elektrisiteit word afgeskeep. Daar is ook ‘n gebrek aan instandhouding en niks word daaraan gedoen nie,” meen hy.

Aan die wetgewende kant bepaal artikel 18(1)(a) van die MFMA dat ‘n jaarlikse begroting wel slegs gefinansier mag word uit realisties verwagte inkomste wat ingevorder moet word. Befondsing van die begroting beteken basies die befondsing van die uitgawe.

Volgens VF+ raadslid in die JB Marks Munisipaliteit, Marlene Steyn-du Toit, is daar te veel geld begroot vir gekontrakteerde dienste en te min vir herstelwerk en instandhouding, wat broodnodig is in Potchefstroom.
“Herstelwerk en instandhouding beloop R120 miljoen, wat 2% van die Eiendomsaanleg en Toerusting is, onder die aanbevole norm van 8%. Die gebrek aan infrastruktuurinstandhouding benadeel tans dienslewering.”

Sy merk ook op dat toelaes 62% van die totale kapitaalbegroting uitmaak, terwyl intern gegenereerde fondse 38% beloop.

“Dit dui daarop dat die munisipaliteit staatmaak op toelaes om dienste aan die gemeenskap te lewer,” meen sy.
Tariewe vir erfbelasting, water, sanitasie en vullisverwydering is ook met 6% verhoog vir die 2022/23 finansiële jaar. Dit is buiten elektrisiteit wat met 7.47% verhoog is.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button