NewsNews

Waterlekke net nog ‘n nalatenskap van verouderde infrastruktuur

“Duisende liter water gaan ook daagliks só verlore met belastingbetalers wat moet pa staan vir die munisipaliteit se waterrekening, terwyl die water met die stormwaterdreine wegspoel.”

Klagtes oor waterlekke is die afgelope week weer op die voorgrond in Potchefstroom. Inwoners in verskeie dele van die dorp sit basies met dieselfde probleme waar ‘n gebrek in instandhouding groter krake te voorskyn laat kom.

‘n Voorval van ‘n groot waterlek waaroor daar hierdie week alreeds berig is, is die krisis in Kampstraat, waar ‘n waterlek ‘n groot gevaarlike gat veroorsaak het.
Ander waterlekke sluit in een op die punt van Reitzstraat oorkant Harmonie woonstelle, sowel as waterlekke in Piet Bosmanstraat naby die Van Rooyensaal.

‘n Waterlek in Piet Bosmanstraat. Foto: Wouter Pienaar

Volgens Vryheidsfront Plus raadslid in J.B. Marks, Ian de Villiers, is die waterlekke klaarblyklik ‘n gevolg van ‘n verouderde water-infrastruktuur wat besig is om in duie te stort.

“In woonbuurte soos Baillie Park, Van der Hoffpark en die Bult-area word die watertoevoer steeds gelei in asbespype wat nou met rasse skrede disintegreer. Die lekkasies veroorsaak sinkgate wat in sommige gevalle selfs die toegang tot ondernemings en kantore in die dorp versper met groot finansiële verliese vir die eienaars,” noem hy.

‘n Voorbeeld van ‘n waterlek in Reitzstraat, een van talle sulke probleme regoor Potchefstroom.

De Villiers lê ook klem op die finansiële impak vir belastingbetalers rakende hierdie waterlekke.

“Duisende liter water gaan ook daagliks só verlore met belastingbetalers wat moet pa staan vir die munisipaliteit se waterrekening, terwyl die water met die stormwaterdreine wegspoel.”
Nog ‘n aspek wat saam met die herstel van die waterlekke handel is die feit dat die munisipaliteit nou aangewese is om kontrakteurs aan te stel om herstelwerk te verrig.

“Dit lei tot verdere koste met hoogs betaalde munisipale amptenare- en tegnici wat ledig sit omdat hulle nie die nodige toerusting en voorraad het om hul werk te doen nie,” meen De Villiers.

“Die VF Plus dring reeds vir jare daarop aan dat die instandhouding en opgradering van infrastruktuur en toerusting in die munisipaliteit geprioritiseer moet word om te voorkom dat ʼn situasie soos tans ontstaan. Die ANC-beheerde munisipaliteit in JB Marks het egter voortgegaan met die wanbestuur van finansiële hulpbronne met die gepaardgaande korrupsie wat telkens ontbloot is.”

Die Herald het navrae aan die JB Marks munisipaliteit gestuur maar nog nie terugvoer gekry nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button