Kleinplaas parkrun gaan groot

Die plaaslike parkrun legende, Nick Jonas, vertel hoekom Kleinplaas parkrun nie op Saterdae misgeloop kan word nie.

Die parkrun Potchefstroom is dood en begrawe, maar uit die as het parkrun Kleinplaas onder die entrepreneurmanskap van Ryno Verster en Carlo Wright sy magtige verskyning gemaak.

Die eerste en amptelike opening het reeds 26 Maart vanjaar plaasgevind en sowat 220 angstige deelnemers het gewag om na die afkondigings en bedankings, stiptelik om 08:00 weg te spring.

Sedertdien het vyf parkruns reeds hier plaasgevind. Dit is ‘n plat 5 km baan en volg ‘n twee rondte roete.

Die hele opset word deur vrywilligers (volunteers) beman en die aanvraag om te help is groot.
Sonder hulle is daar geen parkrun nie.
Die parkrun is vir haastige hardlopers, stadige hardlopers en stappers. Niemand word uitgesluit nie en laaste sal jy nie kom nie, want daar is ‘n beampte “tail walker” wat heel laaste inklok.

Daar is ook vrywilligers wat opgelei word om blinde deelnemers die baan veilig te help voltooi.
Daar is geen kostes aan verbonde nie. Registreer net op parkrun SA se webblad en bring die kredietkaartgrootte bewys saam. Neem deel aan ‘n wêreldwye gebeurtenis wat geen gelyke het nie.

Die parkrun Kleinplaas is 2 km buite die dorp op die Parys-pad. Kyk uit vir die vlae.
Hier is toiletgeriewe, veilige parkering en ‘n koppie koffie na die tyd te koop, wat ‘n parkrun tradisie is.

Alhoewel honde by sekere parkruns toegelaat word, sal honde nie hier toegelaat word nie, so los asseblief vir Wagter tuis en maak jou eie opwagting.

Erkenning van deelname of mylpale word erken met ‘n T-hemp, soos volg:
25 parkruns (pers), 50 parkruns (rooi), 100 parkruns (swart), 250 parkruns (groen) en 500 parkruns (blou). Daar is tans ses parkrunners wat die groen T-hemp met trots dra, en met ywer na die blou 500 T-hemp mik.

Daar is onder meer nog 35 verskillende mikpunte waarna deelnemers kan streef. Twee baie gewildes is die parkrun toeris, wat toegeken word aan die persoon wat in 20 of meer verskillende parkruns oor die land deelneem.

Kyk uit vir hierdie deelnemers met hul spesiale geel kepsie. Nog een van die uitdagings is om aan die alfabet van A-Z parkruns deel te neem.

Daar word ook vir die vrywilligers T-hemde toegeken wat: 25 keer aangebied het (pers), 50 keer aangebied het (rooi), 100 keer aangebied het (swart), 250 keer aangebied het (groen) en 500 keer aangebied het (blou). Kyk spesiaal uit vir hierdie mense en waardeer hul opoffering.

Die leuse van vrywilligers is dat ons nie noodwendig die tyd het nie, maar ons het die passie of hart om dit vrywillig te doen.

Kom ondersteun parkrun Kleinplaas elke Saterdagoggend om 08:00 en bederf jouself met baie vars lug, nuwe en getroue vriende, sowel as ‘n algehele goedvoel mikpunt.

Dit is iets om na te strewe.

Exit mobile version