NewsNews

Miljoene om vullistrokke te huur

Die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit het oor ‘n tydperk van drie jaar ‘n totaal van sowat R44 miljoen aan die huur van vullistrokke spandeer.

Die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit het oor ‘n tydperk van drie jaar ‘n totaal van sowat R44 miljoen aan die huur van vullistrokke spandeer.
Dit nadat hulle in Julie 2019 ses vullistrokke teen sowat R10 miljoen aangekoop het.
Teen die koers wat die vullistrokke gehuur is, kon 24 trokke oor dié tydperk aangekoop word.
Volgens ‘n verslag wat die Herald onder oë gehad het, is daar in die 2018/2019 finansiële jaar ‘n ernstige tekort aan vullistrokke by die munisipaliteit uitgewys. Volgens die verslag was daar slegs twee vullistrokke wat in ‘n werkende toestand was.
“Munisipale werkers moes ekstra ure werk om die werk gedoen te kry,” lui die verslag.
Die kontrak om ses vullistrokke te huur is einde Mei 2019 aangegaan om die probleem aan te spreek. Dit is volgens regulasie 36 gedoen, wat voorskryf dat as dit ‘n noodgeval is, die normale verkrygingsprosedures nie gevolg hoef te word nie.
Die kontrak is vir ‘n periode van drie maande (Junie tot Augustus) gesluit. In Julie 2019 het die Herald berig dat die munisipaliteit die aflewering van die nuwe vullistrokke wat aangekoop is, aanvaar het. In September 2019 is die kontrak vir nog drie maande verleng, hierdie keer is twee skip loaders teen ‘n ekstra R360 000 per maand bygevoeg. Die ses vullistrokke is vir ‘n bedrag van R1 080 000 per maand ingehuur.
Die einddatum van die hernuwing moes November 2019 wees.
Volgens die verslag het die munisipaliteit aangehou om vir die dienste te betaal tot en met ten minste Februarie 2021.
Volgens Hans-Jurie Moolman, DA koukusleier in JB Marks, is ‘n klag oor die huur van die vullistrokke by die Valke ingedien.
“Daar is geen aanduiding waarom daar in 2019 ‘n krisis ontstaan het nie. Waarom is die probleem nie in drie jaar te bowe gekom nie?” is van die vrae waarop Moolman antwoorde wou hê. Jeanette Tshite, waarnemende kommunikasiebestuurder van die munisipaliteit, het bevestig dat vullistrokke tot einde Februarie gehuur was.
“Daar was slegs drie vullistrokke wat in ‘n werkende toestand was. Daar moes ten minste vier addisionele trokke verkry word om dienste te lewer. Alhoewel die munisipaliteit nuwe trokke gekoop het, was dit steeds nodig om ekstra trokke te huur om die tekort aan te spreek,” het Tshite gesê.
Volgens haar is die kontrak gereguleer en voldoen dit aan die wettige vereistes.
“Die pryse van vullistrokke verskil omdat dit verskillende verskaffers is. Die munisipaliteit is nie in ‘n posisie om te kan sê hoeveel vullistrokke vir die bedrag gekoop sou kon word nie. Dit is waar dat die vullistrokke vir ‘n langer periode as wat verwag was gehuur is, maar die huurkontrak voldoen aan al die vereistes,” het Tshite gesê.
Volgens Tshite moes van die nuwe vullistrokke vir herstelwerk volgens die instandhoudingsplan ingestuur word. Dit het die munisipaliteit genoop om trokke aan te hou huur.

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button