Munisipaliteit se gesloer met begroting kan groot nagevolge dra

Die Vryheidsfront Plus noem dat die JB Marks Munisipaliteit die gevaar loop om ná 1 Julie weer deur die provinsiale regering onder administrasie geplaas te word, weens die feit dat spertye ten opsigte van die begroting nie nagekom is nie.

Die gesloer rondom die voorlegging van die JB Marks plaaslike munisipaliteit se begroting vir goedkeuring voor die munisipale raad plaas die munisipaliteit weer onder risiko van administrasie.

Die Vryheidsfront Plus noem dat die JB Marks Munisipaliteit die gevaar loop om ná 1 Julie weer deur die provinsiale regering onder administrasie geplaas te word, weens die feit dat spertye ten opsigte van die begroting nie nagekom is nie. ‘n Konsepbegroting moes volgens munisipale wetgewing op die laatste teen 31 Mei 2022 voor die raad gedien word.

Die VF Plus op Donderdag, 9 Junie ʼn dringende skrywe aan die burgemeester, Gaba Ka Qhele, en die speaker, Moithoesi Dassie gerig, en geëis dat ʼn konsepbegroting dringend tydens ʼn spesiale raadsvergadering vir oorweging voor die munisipale raad dien.

Indien ʼn begroting nie voor die nuwe finansiële jaar wat op 1 Julie ʼn aanvang neem goedgekeur is nie, vereis die wet dat die raad ontbind en ʼn administrateur aangestel word.

Volgens die VF Plus is dit die derde opeenvolgende jaar dat die ANC-beheerde munisipaliteit nie by die wetlik voorgeskrewe tydlne vir die begrotingsproses hou nie.

“Hierdie tipe optrede en laksheid het in die verlede tot groot ontwrigting in munisipale dienslewering gelei en die provinsiale regering volgens wetgewing genoop om die munisipaliteit onder administrasie te plaas. Die plasing van munisipaliteite onder die beheer van administrateurs het in die verlede gewys dat dit ondoeltreffend is en in sommige gevalle bloot nuwe inkomstestrome vir korrupsie skep,” noem VF Plus raadslid in die JB Marks Munisipaliteit, Marlene Steyn-Du Toit.

“Dit ondermyn ook die rol van munisipale rade en die beginsel van verantwoordbare regering omdat die aangestelde administrateurs skynbaar slegs aan hulself verantwoordbaar is,” noem Steyn-Du Toit verder.

Die VF Plus, die provinsiale tesourie en gemeenskap het reeds groot gebreke uitgewys in ʼn vroeëre konsepbegroting wat vir konsultasie ter tafel gelê is. Die VF Plus en die tesourie het daarop gewys dat die voorgestelde begroting onvolhoubaar is en dat die aangeduide geprojekteerde inkomste vir die munisipaliteit heeltemal onrealisties is.

“Die provinsiale tesourie het dit reeds onomwonde gestel dat die vroeëre voorgestelde begroting onbefonds sal wees en dat die munisipaliteit die ooglopende gebreke moet aanspreek voordat die begroting vir goedkeuring voor die raad dien. Die VF Plus het ook tydens die vroeëre konsultasieproses beklemtoon dat daar weer te veel begroot is vir kontrakteurs, oftewel tenderpreneurs, en dat die voorgestelde begroting weereens tekort skiet wat die onderhoud van noodsaaklike infrastruktuur aanbetref,” beklemtoon Steyn-Du Toit.

Volgens Steyn-Du Toit sal die VF Plus aanhou om geregtelike remedies toe te pas om te versker dat die munisipale begroting oorweeg word vir goedkeuring en dat die proses nie tot voordeel van kaderbelange manipuleer sal word nie.

“Die optrede van die ANC-beheerde munisipaliteit wek die indruk dat hy die begrotingsproses probeer manipuleer deur die begroting op die nipper voor die raad te laat dien om sy eie begrotingsagendas en die belange van hul kaders te dien.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version