Die 5-jarige Marno Muller is uiteindelik wakker nadat hy sedert 26 Mei ná ‘n fratsongeluk by sy kleuterskool in Brakpan, in ‘n geïnduseerde mediese koma was.
Marno wou die oggend van die glyplank by sy skool afgly toe die toutjies van sy baadjie se kappie vasgehaak en om sy nek gespan het, soos wat hy gegly het. Sedertdien het hy harte van mense regoor die land aangegryp wat die afgelope 18 dae saam gebid het vir sy herstel.
Marno was sedert die ongeluk aan ‘n ventilator en hartmasjien gekoppel in die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg.
Voorverlede Donderdag het Marno ‘n ernstige terugslag gehad toe hy begin koors kry het ná ‘n infeksie in een van sy longe, en het vriende en familie opnuut gevra dat mense asseblief vir Marno sal bid nadat sy regterlong platgeval het. Teen Maandag het Marno se longe beter gelyk, maar was hy steeds onder sedasie.
En vandag is die klein rooikop seuntjie uiteindelik wakker. Die blydskap is oneindig groot oor Marno se vordering nadat dokters telkens om sy lewe moes veg, maar daar lê nog ‘n baie lang pad na herstel voor vir Marno.