NewsNews

Politieke partye stry teen nasionale gesondheidswet se regulasies

"Met die poging om die Nasionale Gesondheidswet se regulasies te wysig om die nuwe regulasies te rig, beteken dit dat die regering sal voortgaan met striemende ekonomiese beperkings,"

“Die vervanging van die ramptoestand met regulasies van die departement van gesondheid wat op 15 Maart in die Staatskoerant gepubliseer is om Covid-19 of enige pandemie in die toekoms te bestuur, is net ʼn verskuiwing van politieke mag.”

Dit is die mening van die Vryheidsfront Plus se Lid van die Parlement (LP), Phillip van Staden, in ‘n persverklaring wat vandag (5 April) uitgereik is. SA president Cyril Ramaphosa het gisteraand (Maandag, 4 April) aangekondig dat die ramptoestand om middernag opgehef word.

Daar is wel steeds ‘n 30-dae tydperk waar alle Covid-19 vereistes soos die dra van maskers in openbare plekke steeds vir nou geld.

“Dit beteken bloot dat die regering die Covid-19-pandemie nie meer onder die minister van samewerkende regering en tradisionele sake sal reguleer nie, maar deur die minister van gesondheid onder die Nasionale Gesondheidswet. Met die poging om die Nasionale Gesondheidswet se regulasies te wysig om die nuwe regulasies te rig, beteken dit dat die regering sal voortgaan met striemende ekonomiese beperkings,” meen van Staden.

Die DA het ook hulle bekommernis oor die Nasionale Gesondheidswet se regulasies uitgespreek.

“Suid-Afrika het 750 dae lank onder hierdie ramptoestand gely – een van die langstes ter wêreld. Dit het gelei tot enorme swaarkry en verwoesting vir ons land se ekonomie en vir mense se lewens en lewensbestaan. Die DA pleit al vir ‘n paar maande vir die beëindiging van die ramptoestand, sedert kundiges op die gebied van gesondheid begin sê het dat hierdie beperkings nie meer nodig en wetenskaplik nie geldig is nie. Dit is vir ons uiters kommerwekkend dat, ten spyte van die formele opheffing van hierdie ramptoestand, dit lyk of ons regering die beperkings wat ons so lank in die gesig gestaar het te normaliseer deur regulasies by die Gesondheidswet in te stel,” het die DA se nasionale woordvoerder, Cilliers Brink, in ‘n persverklaring genoem.

Die VF Plus het veral die klem gestel op die goeie herstelkoers van Covid-19 gevalle as ook die huidige lae besetting van hospitaalbeddens weens Covid-19 gevalle, as redes hoekom die ramptoestand te lank van krag was.

“Die VF Plus sal alles moontlik doen om enige verdere beperkende regulasies teen te staan.”

Die publiek het geleentheid om voor 15 April 2022 hul besware oor die voorgestelde gesondheidsregulasies aan die departement van gesondheid na : tsakani.furumele@health.gov.za. te stuur.

   

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button